
Terwyl noodregistrasie vir moontlike pesdoders voortgaan, word ’n meer omvattende opname beplan om die verspreiding van die herfs-kommandowurm in Suid-Afrika vas te stel.
Mnr. Senzani Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het Maandag, 6 Februarie, by ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê dit was nog nie moontlik om die omvang van die moontlike plaag te bepaal nie. Hy het boere versoek om die departement dadelik te kontak indien hulle vermoed dat van die wurms by hulle voorkom.
(* Kontak mnr. Jan Hendrik Venter by (012) 319 6384, 072 348 8431 of janhendrikv@daff.gov.za)
Die herfs-kommandowurm wat normaalweg in Suid- en Sentraal-Amerika voorkom, is vir die eerste keer in Januarie in Nigerië opgemerk. Daarna het dit suid begin versprei en teen Desember 2016 was dit in Zambië, Zimbabwe en Malawi opgemerk. Op 3 Februarie het toetse in Suid-Afrika bevestig dat dit nou ook vir die eerste hier voorkom.
(Lees die Sygenta-aanhangsel van mnr. Des van Heerden hieronder, om die kommandowurm van nader te bekyk.)
In noorde
Mnr. Jan-Hendrik Venter, wat by die departement daarmee gemoeid is, sê dit kom blykbaar al voor in gebiede in Limpopo, soos Makopane, Settlers, Vivo, noord van die Soutpansberg by Musina, Levubu en Letsitele. In Gauteng is dit noord van Pretoria al opgemerk.
Die departement het ’n aksiegroep op die been gebring wat bestaan uit verteenwoordigers van provinsiale landboudepartemente, navorsers, produsente-organisasies en bedrywe. Die groep sal gereeld vergader om vooruitgang en resultate te evalueer.
Mnr. Jonathan Mudsunga, registrateur vir plaagdoders by die departement, sê die middele wat tans beskikbaar is om die plaag te bestry is nie op herfs-kommandowurms getoets nie, maar dit beheer ander soortgelyke wurms en die kanse is goed dat dit hierdie wurms ook kan bestry.
Lees ook: Riglyne om kommandowurms te troef