Kommer bestaan oor die beplande imbizo vir arbeid op plase omdat nie net plaaswerkers en boere genooi word nie. Agri Wes-Kaap (AWK) sê die uitnodiging vir die imbizo, wat 31 Maart 2012 op die sportvelde in die Paarl gaan plaasvind, is ook aan plaasbewoners en gemeenskappe in en om die dorp uitgereik.
“Die imbizo word bemark as ’n geleentheid waar die omstandighede van plaaswerkers die fokus sal wees, maar plaasbewoners en gemeenskappe in en om die Paarl word ook genooi om dit by te woon, al werk hulle nie op plase nie.
“Ons is bekommerd dat wanopvattings oor die werklike omstandighede van plaaswerkers as gevolg hiervan kan ontstaan, juis omdat die gehoor nie uitsluitlik plaaswerkers gaan wees nie,” sê me. Porchia Adams, skakelbeampte vir AWK.
Plaasbesoeke
Die imbizo sal deur inspeksies en blitsplaasbesoeke voorafgegaan word. Volgens Adams is die boere in die omgewing optimisties oor dié inspeksies. Sy sê die boere weet inspeksies is nodig en dus het hulle geen probleem dat me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, die plase besoek nie.
Hulle hoop wel dat die inspeksies en blitsbesoeke op plase objektief en streng volgens arbeidswetgewing gedoen sal word, “en dat hierdie geleentheid nie vir enige ander doel misbruik sal word nie”.
Skrikwekkend
Intussen sê me. Elize van der Westhuizen, menslike hulpbronbestuurder by Agri SA, dit is skrikwekkend hoeveel vure hulle elke week oor arbeidskwessies op plase moet doodslaan. “En baie van hul klagtes of kwessies het met sake te make wat nie die boer se verantwoordelikheid is nie!”
Van der Westhuizen sê hulle is erg bekommerd oor die stand van sake, aangesien baie van die kwessies polities gedrewe blyk te wees. “En daar word die heeltyd op kommersiële plase gefokus – nie op kleinboere of op enige ander bedrywe nie.”
22 Maart 2012