
Mense wat nie op die databasis vir droogtehulp in Noordwes is nie, kan dalk nou ook van hierdie voer kry.
Mnr. Naudé Pienaar, adjunk uitvoerende hoof van Agri Noordwes, sê amptenare by die ramphulpsentrum is opdrag gegee om mense wat nie op die lys is nie, na die departement se voorligtingsbeamptes te verwys. Beamptes kan sulke mense se name en ID-nommers afneem en dan glo aan hulle vyf sakke voer gee.
Me. Bonolo Mohlakoana, woordvoerder van Noordwes se departement van landbou en landelike ontwikkeling, sê die provinsie is gekontak deur boere wat in hul distrikte vir hulp aansoek gedoen het, maar wie se name nie op die provinsiale gekonsolideerde databasis verskyn nie.
Gaan probeer help
Die provinsie gaan probeer om sulke boere deur voorligtingsbeamptes met voer te help, maar net mits hulle wel vroeër aansoek gedoen het, sê sy.
Sowat 23 000 name is aanvanklik op die databasis geplaas, maar die provinsie het later gevind daar is duisende dupliserings en daar moes net 15 000 name gewees het.
Pienaar sê voer wat as gevolg van die dupliserings oorbly, behoort volgens 'n nuwe formule in die droogste gebiede uitgedeel te word. Agri Noordwes is bekommerd oor die stadige vordering daarmee. Die sakke voer wat teen 5 Februarie uitgedeel is, is volgens hom net minder as 60%, terwyl aflewering reeds in die tweede helfte van November begin het.
JOYLENE VAN WYK berig dat die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye het die nasionale Departement van Landbou voor stok gehad omdat hulp menige boere bereik wanneer hulle vee reeds gevrek het.
Me. Annette Steyn, DA-LP, wou weet waarom kan ongebruikte geld vir vloedskade nie solank vir droogtehulp aangewend word nie.
Me. Merriam Phaliso, ANC-LP, het gesê die huidige stelsel bied uitdagings want dit word eers beskikbaar wanneer dit te laat vir boere is om hulle boerderye te red.
Kan nie reëls buig nie
Dr. Nthabiseng Motete, senior amptenaar van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het gesê weens finansiële reëls kan geld bewillig vir vloede nie vir droogtes aangewend word nie. “Die Tesourie laat nie toe vir 'n proses waar ‘n provinsie aansoek vir vloedgeld gedoen het, dit gebruik word wanneer droogte ontstaan nie."
Sy het gesê die departement meen tog dat daar tot 'n mate sekere oorwegings in die stelsels moet wees, maar hulle keur dit ook nie goed dat “jy van Pieter moet steel om vir Paul te gee nie”.
Sy het gesê dit kan tot ses maande neem voordat ramphulp 'n gebied bereik. In ramptoestande word boere aangeraai om 'n sekere hoeveelheid vee te hou vir teeldoeleindes en die res te verkoop voordat hulle wegkwyn.