
Die bekende heuwels van Napier wat gewoonlik teen hierdie tyd van die jaar ’n lappieskombers van verskillende skakerings van groen is, het vanjaar aansienlik minder groen en baie meer bruin.
Hier en daar is ’n kamp koring, gars of kanola wat goed lyk. Dis die kampe wat geplant is voor die donderweerreën wat Paasnaweek geval het, sê mnr. ND Fick van die plaas Pofadderskloof. Hulle het toe 18 mm reën gekry. Die lande waarvan die graan en kanola pas opgekom het, is dié wat later geplant is omdat boere die plantery gestaak het toe hulle sien die winterreën kom nie. Hy het begin Junie meer as 40 mm reën gekry.
Mnr. Billy Stewart van die plaas Grootbakenskop sê hy het nie Paasnaweek soveel reën gekry nie. Hy het skaars 40 mm reën van die begin van die jaar af gekry. Stewart en Fick sê hoewel hul graan-oeste die afgelope drie jaar goed was, sukkel hulle met voervloei omdat die winterreën so laat kom. Hulle gee steeds voer.
Mnr. Pierre du Plessis van die plaas Grootzanddrift sê die dele van kanolalande langs bloekomboomlanings het baie swak opgekom vanweë die droogte.