Kommer bestaan oor Graan SA se werknemers in Bothaville se poste ná ’n voorstel dat hul hoofkantoor na Pretoria skuif, aldus Solidariteit. Luidens ’n verklaring kan so ’n skuif 24 werknemers se poste in gedrang bring. Die vakbond eis tans dat die moontlike invloed van die beoogde skuif op werknemers se werksekerheid, skriftelik aan hom uiteengesit word.
Me. Ilze Nieuwoudt, woordvoerder vir die vakbond, sê mnr. Jannie de Villiers, die nuwe hoofbestuurder van Graan SA, het glo voorgestel dat die hoofkantoor weens bedryfstrategiese redes vanaf 1 Januarie 2012 uit Pretoria bestuur word.
“De Villiers het in Februarie vanjaar in die media gesê dat hy nie self na Bothaville gaan verhuis nie, aangesien dit vir hom makliker sal wees om skakeling met die Regering te bewerkstellig indien hy in Pretoria is.”
Afleggings
Volgens die vakbond het die organisasie reeds in ’n brief aan personeel na ’n konsultasieproses met personeellede verwys, wat die werknemers laat wonder oor moontlike afleggings. “Graan SA moet nou oop kaarte speel oor die beoogde skuif en aandui of dit afleggings tot gevolg sal hê,” sê Nieuwoudt.
Nieuwoudt sê talle werknemers het die vakbond reeds om hulp genader. Groot onsekerheid heers onder die personeel, want dit sal vir die meeste nie moontlik wees om stad toe te trek nie.
“As Graan SA wel afleggings oorweeg wanneer die beoogde skuif uitgevoer word, sal hulle artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge oortree, aangesien dié wet duidelik bepaal dat werknemers en vakbonde in kennis gestel moet word sodra afleggings oorweeg word,” verduidelik Nieuwoudt.
7 April 2011