
As die winterreën die derde agtereenvolgende jaar swak is, kan dit katastrofiese gevolge vir plaaslike appelboere inhou, waarsku kenners in die bedryf.
Mnr. Jacques du Preez, algemene bestuurder van handel en markte by Hortgo in die Paarl, sê dit gaan veral ’n moeilike jaar vir appelboere wees wat na ander Afrikalande uitvoer. “Afrika neem veral baie van die plaaslik geproduseerde Golden Delicious-appels op, maar vanjaar gaan moeiliker wees, onder meer omdat die gehalte van die vrugte swakker is weens die droogte, asook die ongunstige wisselkoers.”
Mnr. Thomas Mouton van die uitvoermaatskappy Corefruit, sê die verwagte beter vraag na appels op Midde-Oosterse markte realiseer nie na wens nie omdat heelwat Europese appels beskikbaar is. Hy skryf die swakker vraag toe aan ’n kombinasie van swakker koopkrag en ’n swakker internasionale ekonomie.
Goeie oesjaar in Amerika
Die internasionale ooraanbod van appels word vererger deur ’n besonder goeie oesjaar in Amerika. “Die enigste kultivar waarvoor daar ’n effense vraag in die Noordelike Halfrond kan wees, is Royal Gala,” sê Mouton.
Selfs die uitvoer van die kultivar Pink Lady, wat as ’n “hoëwaarde”-kultivar beskou word, is traag omdat die kleur nie so goed is soos gewoonlik nie – waarskynlik weens die hitte en droogte in produksiegebiede.
Hy sê die eerste Suid-Afrikaanse appels is sowat twee jaar gelede na China uitgevoer, maar in dié stadium gaan betreklik min appels soontoe omdat plaaslike appels kleiner is as dié uit Chili en nie so ’n goeie kleur het soos appels van Nieu-Seeland nie.
Afrika se markte
“Afrika-markte is in die algemeen troosteloos. ’n Tekort aan buitelandse valuta weens swak oliepryse en laer persoonlike inkomste verswak verbruikers se koopkrag drasties.”
Die uitvoer van Golden Delicious- appels na Nigerië is in hierdie stadium 32% laer teenoor verlede jaar.