Kommer oor die land se mielievoorraad steek weer sy kop uit met Sagis se maandverslag wat beperkte voorraad aandui.
Luidens ’n berig op Sake24.com is die voorraad die laagste in jare en lei die grootte van die oes wat tans op die lande is, tot groter kommer.
Volgens die verslag is daar net 1,309 miljoen ton mielies in die land. Die land gebruik egter sowat 9 miljoen ton mielies per jaar en die huidige bemarkingsjaar strek tot aan die einde van vandeesmaand.
Oesskatting
Die inligting waarop die vorige oesskatting verreken is, het nog nie die volle impak van die droogtetoestande op die totale oes in ag geneem nie.
Mnr. Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, sê die land se mielievoorraad is onder druk en die vraag op almal se lippe is met hoeveel die Oesskattingskomitee sy vooruitskatting gaan verlaag.
Die droogtetoestande hou wel die voordeel in dat daar mielies is wat reeds gestroop kan word en die voorraaddruk kan help verlaag, vertel De Villiers.
Suid-Afrika voer tans mielies van Roemenië, Zambië en die Oekraïne af in. Dié situasie lei wel nie tot ’n verhoging in die mielieprys nie. De Villiers meen die prys kan aan die verwagtinge rondom Amerikaners se groot hoeveelheid mielie-aanplantings en gevolglik groot oes toegeskryf word.
Bron: Sake24.com
24 April 2012