Groot kommer bestaan oor Suid-Afrika se openbare landbou navorsingsvermoë, veral om aan praktiese eise te voldoen.
Mnr. Izak van der Merwe, Agri SA se raadgewer oor tegnologie-ontwikkeling en –oordrag, sê die Landbounavorsingsraad het tussen 1993 en 2011 ‘n daling van 60% vir wetenskaplikes met ‘n B.Sc-kwalifikasie ervaar, terwyl getalle vir dié met Ph.D-grade met 40% afgeneem het.
“Ten opsigte van navorsers oor die algemeen het die LNR se personeel in dié tydperk met 41% afgeneem.” Van der Merwe sê dié dalings kan grootliks voor die deur van beleidmakers gelê word, spesifiek wat begrotingstekorte en agteruitgang van infrastruktuur betref.
Vraagtekens oor navorsing
Volgens Van der Merwe kom die “aanbod” van openbare navorsing al hoe meer onder verdenking omdat vertroue daarin wat verloor word. Hy sê dit is ook duidelik dat bedryfsorganisasies navorsing al hoe meer na universiteite neem. Hy meen dat sou die staat nie vinnig ingryp en die situasie aanspreek nie, die land ernstige probleme kan ervaar.
“Politieke wil om besluite te neem, is dringend nodig. Ons is tans op dun ys, en ons moet onthou, honger mense het nie ore nie,” aldus Van der Merwe.
Praktiese eise
Van die praktiese eise wat openbare navorsing moet insluit, sluit die herwinning en behoud van Suid-Afrika se bek-en-klouseer vrye status in. Deeglike beplanning en die bespuiting van muggies langs die Oranjerivier is ‘n volgende uitdaging. Nóg ‘n uitdaging is die identifisering van peste by invoerbare materiaal.
Van der Merwe sê dit is ook belangrik dat jongmense ook ingelig en aangemoedig word om by navorsing oor die landbou betrokke te raak.
13 Oktober 2011