Die sloerdery met die opening van omgewingshowe bekommer me. Bulyewa Sonjica, Minister van Waterwese en Omgewingsake.
Sy het Dinsdag (5 Oktober) tydens die Renosterberaad in Pretoria gesê sy weet nie wat die oponthoud met die oopstelling van dié howe is nie.
“Ek weet eerlikwaar nie wat die oponthoud is nie. Vier stede is reeds benoem om dié howe te kry. Dit is basies ‘n saak van ‘ons sê ons open vandag dié howe’,” verduidelik sy.
Sy sê haar departement het reeds sy werk in dié verband afgehandel, maar wag vir die Departement van Justisie om die laaste sake af te handel.
Sterker vervolging
“Ek is eintlik baie bekommerd hieroor, want sake verbonde aan omgewingsake en wild raak tans weg in die enorme hoeveelheid sake wat die regstelsel moet probeer absorbeer en dit het ‘n uitwerking op die mate van sukses wat met die vervolging bereik word,” het sy opgemerk.
Volgens die minister is Nelspruit en Hermanus reeds vir dié howe geïdentifiseer.
80 verdagtes, 26 sake
Intussen kom 26 hofsake voor van 80 verdagtes wat van misdade rakende renosterstropery of die smokkel van renosterhoring verdink word, sê adv. Johan Kruger, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag se georganiseerde misdaadeenheid.
Volgens Kruger moet strenger aanklagte wat tot strenger vonnisse lei vir renosterstropers kan, oorweeg word om dié misdaad te bekamp. Hy sê voortaan sal alle sake rakende renosterstropery deur sy eenheid hanteer word, en dat hy onlangs 14 regsverteenwoordigers in dié verband in al nege provinsies aangestel het.
Volgens die departement en die Suid-Afrikaanse Polisiediens se statistiek word die meeste renosters tans in die Kruger Nasionale Park vir hul horings doodgemaak.
6 Oktober 2010