
Byeboere in die Sondagsriviervallei is dronkgeslaan oor die redes waarom daar so ’n skerp afname in die produksie van sitrusheuning is. Hulle bespiegel dat dit moontlik die nuwe middels kan wees wat in die spuitprogramme teen swartvlek, vrugtevlieg en vals kodlingmot gebruik word en die bye afsit om in die sitrusboorde nektar in te samel.
Mnr. Louis Smith van die plaas Soetkloof by Kirkwood, sê dat hy die afgelope twee jaar geen sitrusheuning geoes nie. “Die bye werk nie meer in die sitrusboorde nie, maar net in die bossies onder die bome. Behalwe ’n bietjie veldheuning, is my kaste vanjaar dolleeg en is die swerms ook baie kleiner as normaalweg.”
Smith sê die sowat sewe byeboere wat nagenoeg 1 000 kaste in die omgewing van die boorde het, kla almal oor dieselfde probleem. “Waar ons voorheen tot twee sitrusheuningoeste in ’n seisoen gehad het, het ons van verlede jaar niks gekry nie. Byeboere in die omgewing van Addo kla oor dieselfde probleem. Wanneer jy in die boorde loop sien jy dat die bye glad nie meer op die bloeisels werk nie, maar net in die opslag onder die bome.”
Hy vermoed die probleem het ontstaan nadat sitrusboere met hul spuitprogramme al meer na “natuurvriendelike organiese middels” oorskakel wat insektewerend is. “Ons is seker dit is weens ’n mensgemaakte redes en nié ’n verandering in die natuur nie.”
Mnr. Kosie Kritzinger van Kirkwood, wat sowat 260 korwe het en die afgelope 16 jaar heuning insamel, sê hoewel dit die afgelope winter baie droog en koud was, daar ’n besliste afname in produksie is. “Bye is baie gevoelig vir reuke en dit kan wees dat die nuwe middels iets bevat wat insekte afweer. Daar was ’n opvallende afname in trekswerms.”
Mnr. Dave Gerber, hooflandboukundige van die Sondagsrivier Sitrusmaatskappy (SRCC) sê hy is nie bewus van die probleem wat deur die byeboere rapporteer word nie. “Hoewel sitrusboere die afgelope twee jaar hul spuitprogramme weens swartvlek aangepas het, was daar nie noemenswaardige veranderinge in die tipe middels wat gebruik is nie. Op my eie plaas sien ek nog heelwat bye in die boorde. Daar is wel moontlikheid dat die organofosfaat wat teen witluis gespuit word, ook nadelig vir bye kan wees.”
Gerber sê ofskoon lugbespuitings in die vallei baie toegeneem het, die spuitmiddels wat teen vrugtevlieg gebruik word nie ’n lokvermoë vir bye het nie. Waar ’n druppel egter op ’n by beland, kan dit hom dood. Hy het onderneem om die saak op te volg.