
Boere in Limpopo is bekommerd oor die moontlike uitwerking van Zimbabwiese werkpermitte, veral die ZSP (Zimbabwian Special Permit) se verval teen einde van Desember 2017 op die provinsie se arbeidsituasie.
Daar werk ’n geskatte 500 000 Zimbabwiërs in Suid-Afrika en die meeste hiervan in Limpopo. Baie van hulle werk op plase en landbou-organisasies verduidelik dat boere tot ’n groot mate van hierdie buitelandse arbeiders afhanklik geraak het.
Die Limpopo-landbouforum het in ’n onlangse persverklaring sy kommer uitgespreek dat daar nie weer permitte vir die huidige Zimbabwiese werkers uitgereik gaan word nie. “Die Departement van Binnelandse Sake het nog geen aanduiding gegee dat daar ’n alternatiewe permitstelsel gaan kom wat die bestaande stelsel gaan vervang nie. Vorige aanduidings was dat die permithouers by verstryking van hul permitte na Zimbabwe sal moet terugkeer,” lui die verklaring.
Plaaslike werkers skaars
Landbouleiers sê hoewel hulle begrip het vir die staat se behoefte om werkgeleenthede vir Suid-Afrikaanse burgers beskikbaar te stel, kry hulle nie Suid-Afrikaners wat bereid is om sekere werk op plase te doen nie. Mnr. Robert Davel van Mpumalanga Landbou sê hoewel dié provinsie se boere nie soseer op Zimbabwiese werkers steun nie, sukkel boere in Mpumalanga ook om plaaslike mense te kry wat bereid is om spesifieke werke te doen.
“In die suikerrietbedryf het ons rietkappers nodig en elke jaar adverteer boere hierdie werk, maar elke jaar moet hulle maar weer werkers uit Mosambiek kry. Suid-Afrikaners beskou sulke werk as benede hulle.”
Davel sê boere in Mpumalanga doen elke jaar aansoek vir korporatiewe werkpermitte vir hul Mosambiekse werkers. Die Departemente van Binnelandse Sake en Arbeid, wat albei dié permitte moet goedkeur, vereis dat boere bewys hulle het alle moontlike stappe geneem om plaaslike werkers in diens te neem. Boere moet lank voor die tyd al aansoek doen om betyds werkers te hê vir spesifieke seisoenale take.
Werkmigrasie moet makliker
Limpopo se boere kan hul binnekort weer in dieselfde bootjie as hul bure in Mpumalanga bevind ten opsigte van hul Zimbabwiese werkers en sal op korporatiewe werkspermitte aangewese wees. Mnr. Willem van Jaarsveld van Agri Limpopo sê die organisasie oorweeg dit om die adjunkminister van binnelandse sake, me. Fatima Chohan, te nader en te vra dat die spesiale permitstelsel of ’n werkbare alternatief na Desember ingestel word.
Davel meen egter die enigste volhoubare oplossing vir die streek se migrerende arbeidsmag is om ’n paspoort vir migrerende werkers in suidelike Afrika beskikbaar te stel. “Mense kan dan hul burgerskap in hul eie lande behou, maar oor grense heen werk sonder om vervolg te word.”
Intussen waarsku die Limpopo-landbouforum dat dieselfde ekonomiese omstandighede wat Zimbabwiërs na SA gedryf het steeds in hulle land bestaan. “Met ’n grens wat geen immigrasiebeheer moontlik maak nie, sal hierdie mense eenvoudig as onwettiges die land weer binnekom.” Die Departement van Binnelandse sake kon nie bereik word vir kommentaar nie.