
’n Punt waar landbougrond sonder vergoeding vervreem sal word, sal nie in Suid-Afrika aanbreek nie. Maar die landbou kan hom gereed maak dat grondhervorming in die volgende vyf jaar nog veel meer op die voorgrond sal kom as nou. Altesame 397 000 nuwe grondeise sal hanteer moet word waarvoor R179 miljard nodig sal wees, het mnr. Justice Malala, politieke kommentator en koerantrubriekskrywer, tydens Agri Wes-Kaap se kongres gesê.
Malala meen dat dit onwaarskynlik is dat Julius Malema se EFF in ’n koalisie met die ANC sal gaan om die Grondwet te probeer verander, ondanks die ANC se dalende steun en die groeiende swart middelklas wat toenemend in die stede hul rug op die regerende party draai. Hoewel Malema bekend is dat hy sy mening maklik verander, sal die ANC sowel as die EFF moeilik bymekaar uitkom. Die ANC wil nie noodwendig aan die Grondwet peuter nie, maar as hy sou wou, sal hy ’n ander manier vind as om in koalisie met Malema te gaan.
“Eintlik kan die EFF min doen met sy 6% steun, want hy het 66% nodig om die Grondwet te verander. Malema is op die oomblik “baie praat, maar min aksie,” meen Malala. Die volgende verkiesing is egter ’n kopseer vir die ANC weens sy dalende gewildheid.
Suid-Afrika sal ook nie die Zimbabwe-pad loop nie. Mugabe regeer al 34 jaar, terwyl Suid-Afrika in 20 jaar reeds vier presidente gehad het. “Suid-Afrika het ondanks baie probleme, ’n blink toekoms, meen Malala.
Die toekoms van die kommersiële landbou is uitstekend. “Die bevolking groei en verstedelik, en moet gevoed word. “Oor 20 en 25 jaar moet mense nog eet en wyn drink, en dit sal kommersiële boere – wit en swart – wees wat dit moet voorsien.” Ondanks mense soos Malema se geraas oor nasionalisering van myne en landbougrond, is dit totaal van die skerm af. Mense moet aanhou kommunikeer en druk uitoefen – daar is baie ruimte daarvoor in die land, het hy gesê.