
Die Mededingingskommissie het begin met ’n ondersoek na die mark vir vars produkte om te kyk of daar kenmerke in dié waardeketting is wat mededingendheid verminder, verhinder of verwring.
Die owerheid gaan hom op spesifieke kwessies in elke laag van die waardeketting toespits.
Die kommissie sê in ’n verklaring die ondersoek sal spesifiek aspekte van die boer se verkoop van vars produkte aan klante dek, hetsy kleinhandelaars, verwerkers of die uitvoermark.
Die interaksie tussen kleinhandelaars en eindverbruikers, asook voedselverwerkers se verkoop en verspreiding van verwerkte produkte is uitgesluit van die ondersoek.
Die kommissie het vier breë temas geïdentifiseer wat die kenmerke dek wat mededinging of markuitkomste kan belemmer, beperk of verwring:
- Die effektiwiteit van die waardeketting. Dié tema is daarop toegespits om te bepaal hoe die waardeketting en verskillende vlakke van konsentrasie op verskeie vlakke en die roete na die mark pryse en effektiwiteit beïnvloed, met ’n klem op die varsproduktemark.
- Markdinamika en die uitwerking van sleutelproduksiemiddele op boere. Die belangrikste produksiemiddele sluit in saad, kunsmis, landbouchemikalieë, soos onkruiddoders, swamdoders en plaagdoders, en plaastoerusting. Baie hiervan word volgens die kommissie ingevoer of die prys is gegrond op internasionale basisse en kan vir die boer beduidende kostegevolge meebring. Vir dié tema sal gekyk word na die boonste punt van die produksiewaardeketting.
- Klein- en histories benadeelde boere en hul deelname. Vir dié tema sal na die onderste punt van die produksiewaardeketting gekyk word en in die besonder na die versperrings tot toetrede vir klein- en voorheen benadeelde boere, asook kwessies rondom toegang tot varsproduktemarkte of kleinhandelaars deur kontrakboerdery.
- Versperrings tot toetrede wat verband hou met die regulatoriese omgewing.
- Die kommissie beskou die ondersoek na die mark vir vars produkte is noodsaaklik vir begrip van die stand van mededinging in die bedryf, die markeienskappe wat prysuitkomste beïnvloed, en boere se probleme, veral kleinskaalse en opkomende boere.
“Die landbou speel ’n beduidende rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie omdat dit bydra tot voedselproduksie, werkskepping, die verskaffing van grondstowwe aan die voedselverwerkings- en vervaardigingsektor, asook uitvoergedrewe verdienste van buitelandse valuta.
“Die kommissie gee sedert 2008 voorkeuraandag aan die voedsel- en voedselverwerkingsektor omdat dit die bron is van stapelvoedsel en vanweë die sektor se potensiaal om beduidende werksgeleenthede te skep en só te dien as ’n aandrywers van inklusiewe groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie,” sê die owerheid.
Sperdatum vir kommentaar
Die kommissie sê die opdrag vir die ondersoek is in die Staatskoerant (nr. 46093) van 25 Maart 2022 afgekondig.
Enigeen wat kommentaar wil lewer, moet dit op of voor 22 April 2022 na ccsa@compcom.co.za stuur.