
In die afgelope twee dekades is die wêreld-ekonomie deur vier groot gebeurtenisse getref. Eers was dit die impak van die aanvalle op Amerika op 9 September 2001, daarna het die ekonomiese insinking van 2008 gevolg. In 2019 het die covid-19-pandemie groot ontwrigting gesaai en terwyl die ekonomie begin herstel het, het Rusland se inval van Oekraïne plaasgevind, wat dinge weer op sy kop gekeer het.
Dr. Werner Rossouw, direkteur van Silostrat, het tydens die Nampo-oesdag aan Landbou.com gesê die oorlogsituasie is ongekend in hierdie ekonomiese tye en daar kan nie met sekerheid gesê word hoe lank dit gaan duur of die impak daarvan op die ekonomie nie.
Die skielike styging in byvoorbeeld die prys van sonneblomolie die afgelope paar maande is ’n duidelike voorbeeld daarvan. “Hierdie oorlog het die vermoë om op ’n baie langer termyn ’n voortslepende impak te hê op kommoditeitspryse.”
Onsekerheid oor voorrade
Rossouw het gesê internasionaal bestaan onsekerheid oor kommoditeitsvoorrade weens die groot hoeveelheid graan wat Rusland en Oekraïne produseer. Rusland is een van die grootste produsente van ruolie, en die impak daarvan op ruoliepryse is baie duidelik. Verder is die twee lande verantwoordelik vir die produksie van 30% van die wêreld se koring, 58% van die wêreld se sonneblomsaad en 82% van die sonneblomolie. Oekraïne is ook die vierde grootste uitvoerder van mielies.
Die situasie rondom landbouproduksie in Oekraïne, met dié bedryf wat die grootste deel van Oekraïne se bruto binnelandse produk (BBP) uitmaak, is tans baie onseker. Na verwagting gaan boere daar 80% van hul gewone graanaanplantings doen, maar die meeste van hulle moet dit doen sonder kunsmis of onkruiddoder. Die opbrengste is dus baie onseker.
“En dan, selfs al het hulle genoeg produksie, is die groot vraag of hulle gaan kan uitvoer, want dis tans nog net die Odessa-hawe, wat sowat 40 miljoen ton graan kan uitvoer, wat vir Oekraïne behoue bly. En Rusland het reeds ’n grootskaalse aanslag geloods om dié hawe ook oor te neem, want hy wil Oekraïne van die buitewêreld afsny,” het Rossouw gesê.
“Oekraïne het tans sowat 15 miljoen ton mielies van die vorige seisoen wat nog nie uitgevoer is nie, en dis onseker of dit wel uitgevoer gaan kan word.”
Wat is belangrik vir die plaaslike mark?
Met die grane wat nie soos gewoonlik van Oekraïne en Rusland gekoop kan word nie, het internasionale graanpryse begin styg, sommige drasties, aangesien die vraag dieselfde gebly het.
Met sy vierde grootste mielie-oes in die geskiedenis wat Suid-Afrika tans oes, het die mielieprys sedert Januarie vanjaar met R1 200/t gestyg. Die prys van koring het met meer as R2 000/t gestyg, sonneblom met meer as R1 000/t en sojabone met R300/t.
Rossouw het gesê hy verwag dat kommoditeitspryse vir die volgende 12 tot 18 maande hoog gaan wees. “Ek dink in 2024 kan kommoditeitspryse onder druk kom namate die res van die wêreld begin produseer, maar vir die res van 2022 en 2023 gaan pryse hoog bly.”
Hy verwag wel dat pryse iewers in die 18 maande “gaan asem haal” met die tweede grootste someroes wat in Amerika verwag word.
Hy maan dat Suid-Afrika nie te lank teen invoerpariteit mielies moet uitvoer nie. “Baie uitvoer vir die plaaslike mark is reeds vasgemaak. Die surplusvoorraad gaan vinnig uitgevoer word, en dan moet ons wegbeweeg van invoerpariteit anders gaan ons te veel mielies uitvoer en in sekere dele van Suid-Afrika kan tekorte ontstaan.”
Sojabone
Een kommoditeit “wat mens plaaslik grootoog moet dophou”, is sojabone. Oekraïne produseer nie sojabone nie en daarom het die oorlog nie ’n groot impak op dié pryse nie.
“Plaaslik gaan ons die seisoen met redelike groot oordragvoorraad afhandel en weens die laer koste van insette soos kunsmis om sojabone te plant, is daar sprake dat sojaboon-aanplantings volgende jaar met van 150 000 ha tot 200 000 ha kan uitbrei,” het Rossouw gesê. “Ek meen daar is beslis prysrisiko vir sojabone in die volgende 12 maande wat boere moet dophou.”