
Boere wat op sowat 1,8 miljoen hektaar kommunale grond in Namakwaland boer, sukkel nog om vooruit te gaan.
Hulle is lede van die boereverenigings Concordia, Nourivier en Kameelkrans, wat by Agri Namakwaland geaffilieer is. Behalwe dat hulle nie die grond besit nie, is die boerdery-infrastruktuur, soos damme, pompe, krippe, pype, krale en draadheinings, in 'n haglike toestand.
Hoewel die Regering van tyd tot tyd geld toeken om die infrastruktuur te verbeter, kla hulle dat hulle nooit sien hoe die geld aangewend word nie.
In 'n brief aan me. Annette Steyn, DA-parlementslid wat die vergadering toegespreek het, skryf lede van die boerevereniging Concordia dat die staat sedert 1994 vyf plase gekoop het om die meent van Concordia ten bate van arm boere te vergroot, maar dat die grond deur staatsamptenare en groter boere gebruik word.
Agri Namakwaland het 70 lede wat 200 kleinvee-eenhede en minder besit, 37 wat 210 tot 500 kleinvee-eenhede besit en 42 wat meer as 500 kleinvee-eenhede besit. Heelparty van die lede wat minder as 200 kleinvee-eenhede besit, boer in die kommunale gebiede van Concordia, Nourivier en Leliefontein.