
Dieselfde aand wat mnr. Wimpie Paulse in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum sy aanvaardingstoespraak as provinsiale landbouwerker van die jaar gemaak het, het gewelddadige onluste op plase in die Ceres-omgewing uitgebreek.
“Dit was ’n baie moeilike tyd,” onthou hy die donker dae in die Wes-Kaapse landbougeskiedenis. Dit was in 2012 en Wimpie moes bontstaan om die vrugtebedryf te help stabiliseer, maar deur die kompetisie het hy die selfvertroue, ’n netwerk van kundige mense en die nodige blootstelling gekry om dit soos ’n ou hand te hanteer.
As een van die beoordelaars by die Witzenberg-streek se Prestige-landboutoekennings, het hy die sowat 136 streeksdeelnemers geloof dat hulle aan die kompetisie deelgeneem het, maar hy moedig eintlik alle plaaswerkers aan om hul staal te kom wys by die wonderlike kompetisie.
Me. Charmaine Scholtz, junior bestuurder wat ook in die menslike hulpbronafdeling van Ceres Remhoogte Boerdery werk, is as streekswenner aangewys.
Vordering gemeet
Paulse sê hy het altyd gedink hy maak ’n verskil in sy omgewing, maar deur die Wes-Kaapse Prestige-landboutoekennings (voorheen bekend as die Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar-kompetisie) het die geleenthede net soveel meer geraak.
Die blootstelling wat hy deur die kompetisie gekry het is van onskatbare waarde, meen Paulse. Hy sê as die provinsiale wenner was hy in situasies en tussen mense waar hy homself moes leer handhaaf. “Ek kon nie skuil agter die feit dat ek ’n plaaswerker is of dat ek agtergeblewe of minder bevoorreg is nie. Ek moes relevant wees en daarom moes ek uitvind wat in die wêreld aangaan.”
As deel van sy prys het hy oorsee gaan reis. “Dit het my blootgestel aan die markplek en ek het besef boekekennis is nie genoeg nie.”
Verander beeld van landbouwerkers
Wat Paulse die naaste aan die hart lê, is dat hy die kans het om die beeld van landbouwerkers te help verander. “Ek het dit gehaat dat plaaswerkers voorgehou word as agterlik en oningelig en gesien word as die laagste vlak mense wat jy kan kry.”
Hy het alle landbouwerkers op die hart gedruk om aan die Wes-Kaapse Prestige-Landboutoekennings deel te neem.
Die Witzenberg-vallei het die streekskompetisies vir vanjaar se Prestige-landboutoekennings afgeskop en nog 14 streekswenners sal aangewys word. Die provinsiale wenner sal, na nog ’n ronde van beoordeling, op 5 November by Nederburg in die Paarl aangekondig word.