
Plaasmoorde en -aanvalle, sowel as algemene misdaadvlakke in landelike gebiede, is so 'n drukkende probleem dat 'n internasionale konferensie oor landelike misdaad deur Unisa en die georganiseerde landbou aangebied gaan word.
Die konferensie sal op 27 September in Centurion plaasvind.
Die tema van die konferensie is: Die uitdagings van landelike misdaad wat die landbousektor affekteer. Die organiseerders het in 'n persverklaring oor die geleentheid 'n beroep gedoen op diegene wat gewikkel is in navorsing rakende landelike misdaad om hul navorsing aan te bied vir bespreking by die konferensie.
Sprekers
Verskeie internasionale sprekers het hulself reeds verbind daartoe om referate by die konferensie te lewer.
Dr. Joseph Donnemeyer, professor by die Ohio-staatsuniversiteit in Amerika, gaan die impak van misdaad op plase bespreek.
“Die doel van dié toespraak is om die impak van misdaad op landboubedrywighede en boergesinne op 'n globale sowel as plaaslike vlak te analiseer. Die ernstige aard van die misdaad, sowel as die hoeveelheid en tipe, hang af van die sosiale, ekonomiese en kulturele omstandighede in die omgewing. Tog is die beginsels van die voorkoming van dié misdaad universieël,” beskryf die verklaring Donnemeyer se referaat.
Dr. Elaine Barclay van die Universiteit van New England in Sydney, Australië, sal 'n referaat lewer oor misdaadvoorkoming op plase in Australië, terwyl mnr. Emmanuel Bunei van die Mount Kenya-universiteit in Kenia die uitdagings van veediefstal in Afrika sal bespreek.
Versoek om bydraes
“Almal wat navorsing, ondersoeke of wetenskaplike werk doen oor enige faset van landelike misdaad word genooi om hulle kennis, navorsing, bevindings of praktiese ervarings rondom aspekte van landelike misdaad word genooi om 'n bydrae te maak,” lui die verklaring.
Vir meer inligting, kontak mnr. Willie Clack by 082 574 2653 of epos wclack@unisa.ac.za.