Die 24 Suid-Afrikaanse boere wat in Desember in die Republiek van die Kongo begin boer het, sê in hierdie stadium lyk hul mielies baie mooi en alles verloop nog klopdisselboom.
Die boere het die grootste kommersiële landbouprojek in die Kongo aangepak met hul mikpunt om binne drie maande 2 000 ha se mielielande voor te berei en te plant. Mnr. André Botha, voorsitter van Congo Agriculture (die maatskappy wat gestig is om die boerdery te verteenwoordig), sê hulle beoog om nog tot einde vandeesweek te plant.
Hy meen dat hulle naby aan die mikpunt van 2 000 ha is. “Tans reën dit so elke derde dag en die mielies het goed gereageer op die kunsmis wat toegedien is. Daar word ook proewe met blaarvoeding gedoen.”
Botha sê waar die ontkieming van ’n mieliepit in Suid-Afrika sowat ses dae duur, het van die mielies in die Kongo binne 72 uur al begin opkom. Die kwaai reëntyd begin nou enige dag en almal wag om te sien hoe die plante dit gaan hanteer. Die boere, almal gelyke aandeelhouers in Congo Agriculture, hou vandeesweek hul eerste jaarvergadering.
Ál die lede, ook diegene wat nog in Suid-Afrika woon, is op die plaas byeen. Hulle sal ná die jaarvergadering hul eie koöperasie stig om verdere werksaamhede te bepaal.
Kibboets-stelsel
Die lede het aanvanklik in ’n kibboets-stelsel saamgewerk om die boerdery aan die gang te kry. Sowat 85 000 ha van ’n staatsplaas is in die Niarivallei, sowat 200 km van die hawestad Pointe Noire, aan die Suid-Afrikaanse boere beskikbaar gestel.
Elke boer kry sowat 1 500 ha om op te boer. Nóg 24 boere sluit hulle in Oktober by die groep aan. Botha sê hy sien aanstaande week verskeie regeringslui in Brazzaville, onder meer oor die afbakening van 15 000 ha van die grond wat nog nie afgehandel is nie.
Congo Agriculture het ’n kontrak om in die eerste seisoen 15 000 ton mielies vir binnelandse verbruik te lewer. Die landboumaatskappy Afgri begin binnekort met die oprigting van ’n bunkersilo van 25 000 ton daarvoor.
2 April 2012