Mnr. Ben Freeth, die Zimbabwiese boer wat sy regering by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se tribunaal verkla het, is deur Koningin Elizabeth II by die Buckingham-paleis in Brittanje vereer.
Freeth het die Orde van die Britse Ryk (MBE) vir “sy dienste aan die landbougemeenskap in Zimbabwe” ontvang.
Hy en sy skoonpa, mnr. Mike Campbell, het die aansoek in Windhoek by die SAOG-tribunaal teen die grondvergrype begin, waarby 77 ander kommersiële boere hulle ook aangesluit het.
Die tribunaal het in 2008 beslis dat die Zimbabwiese regering se grondhervormingsprogram onwettig en rassisties is en dat boere hul plase moet terugkry of vergoed word. Die Zimbabwiese regering het hom egter nie aan dié uitspraak gesteur nie.
In 2008 is Freeth, Campbell en dié se vrou, Angela, erg aangerand. Verlede jaar is hul plaashuise afgebrand en hulle woon nou in Harare. ’n Dokumentêre rolprent, Mugabe and the White African, is oor hul stryd gemaak en wêreldwyd vertoon.
Freeth was een van sowat 100 ontvangers van toekennings. Die stelsel van Britse eretoekennings aan mense wêreldwyd kom al oor ‘n tydperk van meer as 650 jaar. Name van ontvangers word gewoonlik op Nuwejaarsdag en die koningin se verjaarsdag in Junie bekend gemaak.
20 Oktober 2010