Die konsepwet op Gevaarlike Wapens en die implikasies wat dit inhou, is ’n bron van kommer vir die landbougemeenskap.
Die Vryheidsfront Plus sê die konsepwet is onlangs in die Staatskoerant gepubliseer en die definisie van ’n wapen in die wet is baie wyd.
“Kieries, knuppels, pepersproei, enigiets wat gebruik kan word om iemand te beseer, word gedefinieer as ’n gevaarlike wapen. Sou ’n vrou laat in die aand met pepersproei in haar handsak loop en die polisie keer haar voor, kan sy nie sê dit is vir selfverdediging nie en kan sy in hegtenis geneem word.
"Die konsepwet is om die minste te sê absurd en belangegroepe moet dringend skriftelik hul besware indien,” sê mnr. Pieter Groenewald, die party se verteenwoordiger vir veiligheid.
Dit wet definieer ’n gevaarlike wapen en die definisie is van toepassing op speelgoedgewere, windbukse, “BB”- en verfbal-gewere. Enigiemand wat ingevolge die wet aangekeer word, kan tot drie jaar tronkstraf opgelê word.
Wye definisie
Mnr. Chris van Zyl, die TLU SA se assistent-bestuurder van dienste, sê die feit dat die wet se definisie vir wapens baie wyd is, wek groot kommer.
“Van ’n stapkierie tot ’n knipmes kan volgens die definisie as ’n wapen gesien word. Ons is bekommerd oor hoogs tegniese wette waar oordeel oor ’n gevaarlike wapen aan beamptes tot op die laagste vlak van implemtering oorgelaat word.”
Van Zyl sê die wet is in ’n mate ironies, want dit is juis wetteloosheid in die land wat daartoe aanleiding gee dat mense hulself wil beskerm.
‘Die staat mis die punt’
Intussen sê mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, met dié konsepwet “mis die staat die punt. Daar is ’n moraliteitsprobleem in die land waar respek nie meer aan mense se lewe geheg word nie. Die Regering moet ’n bietjie die hand in eie boesem steek en kyk wat kom uit.”
Botha sê wat hom veral van dié wet bekommer, is dat dit reaktief op die groter probleem is. Hy het ook verskeie vrae oor of behoorlike implementasie daarvan sal geskied.
“Dit beteken mense wat aan onwettige optogte deelneem se wapens moet ook afgeneem word en hulle moet vervolg word.”
Albei organisasies het aangedui dat hulle op die wet kommentaar sal lewer. Enige kommentaar op die konsepwet moet teen 2 Oktober vanjaar ingedien word.
26 September 2011