Die konsepwet op die vervoer van diere en diereprodukte (2012) is bekend gemaak en boere word gevra om kommentaar te lewer, sê die Rooivleisprodusente-organisasie(RPO).
Mnr. Willie Clack, voorsitter van die RPO in Gauteng, sê dit is baie belangrik dat boere hul kommentaar oor die konsepwet moet lewer, aangesien dit verskeie omstrede aspekte bevat.
“Die dokument is baie omstrede en wye kommentaar gaan daarvoor nodig wees,” aldus Clack. Van die aspekte van die wet wat pla, is dat sekere dele baie herhaal word. Verder word pluimvee en wild by die voorgestelde wet se beskrywings uitgesluit.
Vervolging
Die voorstelle ten opsigte van die vervolging van oortreders laat ook die wenkbroue lig. Mense wat in die besit is van voorwerpe waarmee diere moontlik seergemaak kan word, of mense wat nie die regte dokumente het om die rede vir hul teenwoordigheid by diere te verklaar nie, kan dieselfde straf as ’n veedief of iemand wat ’n dier vermink kry.
Die konsepwet bepaal dat mense wat aan sulke misdade of aan die ontvangs of besit van gesteelde diere skuldig bevind word, tot 20 jaar tronkstraf opgelê kan word. Dié straf sal ook geld vir aanhitsing tot of die oorreding van iemand om een van dié misdade te pleeg.
Die wet bepaal dat ’n oortreder wat die eerste keer aan so ’n misdaad skuldig bevind word, tot 10 jaar tronkstraf opgelê kan word. ’n Tweede skuldigbevinding kan 15 jaar tronkstraf beteken, terwyl ’n oortreder wat die derde keer vir een van die misdade gevang word, 20 jaar tronkstraf in die gesig kan kry.
Die wet is op 19 April 2012 in die Staatskoerant gepubliseer, en belangstellendes moet binne 30 dae daarop kommentaar lewer.
Konsepskutwet
Intussen is die nasionale konsepwet op die skut van diere gefinaliseer en word daar gewag dat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, dit goedkeur. Sodra dít gebeur het, sal die konsepwet geproklameer word en dan sal die publiek ook vir 30 dae lank op dié wet kommentaar kan lewer.
Kopieë van die konsepskutwet wat wag op goedkeuring en van die konsepwet op die vervoer van diere en diereprodukte is onder aan die berig beskikbaar.
26 April 2012