
Mnr. Kempen Nel, voorsitter Vrystaat Landbou se infrastruktuur-komitee, sê dit is kommerwekkend dat landsburgers se lewens op die spel geplaas word as gevolg van burokratiese rompslomp en gevolglike staatsverval.
Sedert Januarie 2022 se vloede is ’n deel van die R30 amptelik gesluit. Waarskuwingsborde en versperrings is egter gesteel en die pad is daagliks gebruik. Grondwalle is later oor die pad gegooi wat boere afgesny het van graansilo’s.
Mnr. Uys van Heerden van die Allanridge-landbouvereniging sê die departement van vervoer en openbare werke het aan boere toestemming gegee om met hul trekkers en sleepwaens oor die grondwalle te ry ten einde hul produkte af te lewer.
’n Kontrakteur is nou uiteindelik aangestel vir die projek van R22 miljoen om 300 m op die R30-pad te herstel. Werk moes reeds op 20 November begin het, maar volgens Vrystaat Landbou blyk dit dat die pad heeltemal gesluit moet word tydens die hersteltydperk.
Volgens dr. Jack Armour, handelsbestuurder van Vrystaat Landbou, het 500 kontrakteurs aansoek gedoen om al die padtenders wat die departement uitreik het. Elke tender moet deur twee komitees goedgekeur word. Vrystaat Landbou is daarom bekommerd oor die tydsame proses om kontrakteurs aan te stel.
Dit word glo nog verder bemoeilik deur omslagtige bemagtigsvereistes wat in die verlede veroorsaak het dat kader-kontrakteurs, wat nie die werk kan doen nie, aangestel is.
“Vrystaat Landbou se standpunt bly dat hy verkies dat die strategies belangrike R30-pad van Virginia tot Orkney deur Sanral oorgeneem word, wat ’n baie beter rekord van padonderhoud het as die provinsiale departement van paaie,” sê Armour.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.