Landbou-ontwikkeling hang af van doeltreffende landbou-koöperasies en die vermoë om kleinboere by dié koöperasies te betrek. Só sê mnr. Langa Zita, direkteur-generaal van landbou.
Zita het op ’n konferensie in Boksburg gesê koöperasies beklee ’n sentrale plek in die departement se missie van landbou-ontwikkeling, werkskepping in landelike gebiede en voedselsekerheid.
“Kleinskaalse landbou moet die grondslag vorm van landelike ontwikkeling in veral die voormalige tuislande. Die grond is daar, die mense is daar en selfs die vraag na kos is daar.”
Zita sê die soort koöperasies wat nodig is, is koöperasies wat kleinboere toelaat om op klein skaal te produseer, maar wat hulle vergoed vir die tekortkominge van ’n kleinskaalse boerdery. “Ons wil koöperasies hê wat kleinboere se toegang tot finansiering en produksiemiddele vergemaklik en wat dié boere help om markgeleenthede te benut.”
Volgens sy departement is daar rekords van 836 koöperasies waarvan sowat 200 as “funksioneel” beskryf word. Hy sê die meeste van dié koöperasies is egter produksiekoöperasies, bestaande uit individue wat saam as ’n groep boer.
Kleinboere
Hy sê landbouhervorming gaan nie bloot daaroor om kommersiële wit boere met grootskaalse swart boere te vervang nie, hoewel dit deel kan wees van hervorming.
Dit gaan ook nie daaroor om ’n grootskaalse wit boer met ’n groep individuele swart boere te vervang nie. “Dit is voorheen geprobeer en almal ken die gebrek aan resultate.”
Hy sê daarom is produksiekoöperasies nie die antwoord nie, maar eerder bemarkingskoöperasies. Zita het daarop gewys dat bemarkingskoöperasies die Regering kan help met sy Zero Hunger-veldtog.
Met dié veldtog kan ’n mark vir kleinboere gewaarborg word indien ál die staat se aankope van kos by kleinboere gedoen word. Dit geld aankope vir onder meer hospitale, skoolvoedingsprogramme en tronke.
29 Maart 2012