Om Chloon 13, die nuwe entstof vir Slenkdalkoors te bekom, veroorsaak tans kopsere, veral nadat te min dooie entstof verlede jaar tydens die groot uitbreking van die siekte, beskikbaar was.
Mnr. Andre Ferreira, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat, sê sedert Oktober 2010 is die entstof slegs van tyd tot tyd by hulle beskikbaar.
“Ons het gelukkig nie tans ‘n krisis met ‘n uitbreking nie, maar die entstof is baie periodiek beskikbaar, dan kry ons ‘n bietjie, en dan kry ons niks,” sê Ferreira. Hy sê hulle ondervind ook probleme met entstof vir knopvelsiekte, perdesiekte en bloutong.
Weer in Maart
Intussen sê mnr. Willie Botha, ‘n woordvoerder vir Onderstepoort Biologiese Produkte, die volgende besending van Chloon 13 sal op Maandag (7 Maart) beskikbaar wees.
“Die volgende 3 miljoen dosisse gaan tans deur gehaltebeheer. Dit behoort in die week van 28 Februarie aan ons beskikbaar gestel te word, waarna dit verpak sal word en 7 Maart beskikbaar sal wees.”
Botha sê daar is tans dooie en lewende entstof beskikbaar, maar Chloon 13 is hoog op aanvraag aangesien net een inspuiting per dier nodig is en dit vir enige dragtige dier veilig is.
“Ons het nie verwag dat dit so gewild sal wees nie, dit het ongelooflik vinnig uitverkoop.”
Geen opgehoopte voorraad
Volgens Botha bestaan daar nie ‘n opeenhoping van voorraad iewers in ‘n aankoper se pakkamer nie. Hy sê hulle is elke dag met die verkopers in kontak, en niemand het voorraad nie.
“Daar lê nie êrens voorraad opgehoop nie. Die voorsieningsprobleme kan gedeeltelik daaraan toegeskryf word dat sommige boere hulle diere te laat begin inent het.”
Gevalle van Slenkdalkoors is al in die Wes- en Oos-Kaap gediagnoseer, en die departement van landbou in die Oos-Kaap het ‘n grootskaalse inentingsveldtog vroeër vanjaar onderneem.
21 Februarie 2011