
Aanplantings van koring in die Vrystaat, tradisioneel die naasgrootste koringstreek ná die Wes-Kaap, is by 'n rekord-laagtepunt.
Die Oesskattingkomitee se jongste ramings wys dat die nasionale koring-aanplanting vanjaar net 468 000 ha beloop, wat heelwat minder as 2013 se 505 000 ha is.
Aanplanting van koring in die Vrystaat, tradisioneel die naasgrootste koringstreek ná die Wes-Kaap, bereik vanjaar 'n rekord-laagtepunt. Dit is net 60 000 ha teenoor verlede jaar se 90 000 ha, en 2005, toe die Vrystaat se 380 000 koring-hektare nog die Wes-Kaapse 300 000 ha vér oortref het.
Die verwagte nasionale koring-oes is net 1,78 miljoen ton, byna 5% minder as verlede jaar se 1,87 miljoen ton. Vanjaar se oes behoort dus net genoeg te wees om in bietjie meer as die helfte van die totale binnelandse verbruik van sowat 3,2 miljoen ton te voorsien.
Die afplatting in Vrystaatse koringproduksie beteken die Noord-Kaapse besproeiinggebiede is nou met 'n verwagte oes van 285 000 ton in die posisie as die land se tweede grootste koringprodusent. 'n Vrystaatse oes van net 258 000 ton word verwag, en 'n Wes-Kaapse oes van 914 500 ton.