
Die uitwerking van gereelde reën in Augustus en September het gesaaides sodanig verbeter dat Swartlandse boere wat middel-Oktober begin oes het, nou meer optimisties is oor vanjaar se graan-oes.
Mnr. Teubes Mostert, wat by Koringberg boer, sê hy verwag bogemiddelde koringopbrengste, en is opgewonde oor die gehalte van die monster wat hy voor die oes laat toets het. "Proteïen is 12,5%, die hektolitermassa is 79,6 en die vog 11,6%."
Mnr. Anton Mouton van die plaas Piekenierskloof, Eendekuil, het oor die dreun van sy stroper gesê die oes lyk "heel orraait". Hy skryf dit toe aan bietjies-bietjies reën wat hulle gereeld in Augustus en September gekry het.
Koring is mooi
Mnr. Francois Eksteen van die plaas Witvlei, Piketberg, sê die koring het "mooi gekom" en lyk goed. Volgens hom het hulle vanjaar baie probleme met bolwurm gehad.
In die suidelike deel van die Wes-Kaap, tussen Stanford en Caledon het mnr. Piet Dreyer van Raka Boerdery sy graan en kanola platgesny, maar nog nie geoes nie. Mnr. Leon Groenewald van die plaas Rietkuil by Rietpoel het ook nog net platgesny.
Heidelberg kan nie kla nie
Op die Heidelbergvlakte by Heidelberg, is mnr. Andries Duminy van die plaas Somona reeds halfpad deur die oes. Koring- en garsopbrengste lyk goed. "Die oes lyk wéér mooi. Heidelberg kan nie vanjaar kla nie."
Die kanola-les wat hy vanjaar geleer het, is dat sy opbrengs hoër kon wees as hy swamdoder twee keer, in stede van een keer, gespuit het.
Teen 18 Oktober is sowat 17% van die verwagte kanola-oes gelewer. Mnr. Franco le Roux, landboukundige hulpbronbestuurder by Southern Oil Beperk (Soill) op Swellendam, sê opbrengste is oor die algemeen bogemiddeld en gehalte is ook goed. "Die oes kom redelik droog in met geen probleme."