Die verwagte produksie van koring is sowat 1,8% minder as die vorige skatting, sê die Oesskattingskomitee.
Volgens die jongste oesskatting is Suid-Afrika se verwagte produksie van koring 1, 808 miljoen ton, wat sowat 1,8% minder as die vorige skatting is. Luidens ’n nuusverklaring sê die Nasionale Oesskattingskomitee die vorige skatting het op 1, 842 miljoen ton te staan gekom, met ’n opbrengs van 2,99 ton per hektaar.
Die geskatte produksie vir die Wes- en Noord-Kaap is onveranderd op onderskeidelik 636 000 ton en 273 000 ton gelaat. Die verlaagde skatting volg ná die Vrystaat se verwagte produksie met 33 750 ton, of 1,8%, verlaag is.
Die totale oppervlakteskatting vir koring is onveranderd op 604 700 ha gelaat.
Meer gars en kanola
Intussen meen die komitee dat die hawer- en kanola-oes groter gaan wees as wat vroeër verwag is. Die produksieskatting vir moutgars is 251 960 ton, wat 6,06% of 14 400 ton meer is as die vorige skatting van 251 960 ton.
Die oppervlakte onder gars word op 80 150 ha beraam, terwyl die verwagte opbrengs 3,14 ton per hektaar beloop. Dié verwagte toename word aan beter kultivars en gunstige weerstoestande in die hoofproduksiegebied, die Suid-Kaap, toegeskryf.
Die skatting rakende die kanola-oes het met 3,8% tot 59 490 ton toegeneem. Die oppervlakteskatting vir kanola is 43 510, met ’n opbrengsverwagting van 1,37 ton per hektaar.
Die vyfde produksieskatting vir wintergewasse sal op 21 Desember bekend gemaak word.
25 November 2011