
Boere weet steeds nie of koringkopers graan sal koop wat nié aan al die streng Suid-Afrikaanse vereistes vir bak- en maaldoeleindes voldoen nie.
Mnr. Tjaart Kruger, hoof uitvoerende beampte van die voedselgroep Premier, het tydens ’n graangesprek op die afgelope Agri Megaweek ’n vraag van mnr. Schalk Viljoen van Riviersonderend daaroor gesystap deur te sê hulle sal “gaan waar die mark hulle vat”.
Wes-Kaapse boere stoei al lank om toegelaat te word om kultivars met eienskappe gelykstaande aan die graan wat ingevoer word en bes moontlik ’n hoër opbrengspotensiaal het, te produseer en sodoende groter wins te maak.
In die stadium moet alle koringkultivars wat in Suid-Afrika vir kommersiële gebruik vrygestel word, aan die sogenaamde vrystellingsnorme voldoen. Die norme is bykomend tot graderingsregulasies vir proteïeninhoud, hektolitervolume en valgetal en uniek tot Suid-Afrika.
Volgens telers is die bakgehalte van koringkultivars negatief gekorreleer met graanopbrengs.
Dit beteken dat bakkers en koringprodusente nooit albei tot dieselfde mate bevoordeel kan word nie. Bakkers gebruik gewoonlik Suid-Afrikaanse of Kanadese koring as basis en meng ander ingevoerde koring, wat nie noodwendig aan al die streng standaarde as plaaslike koring voldoen nie, daarby in.
Volgens Kruger het maaltegnologie so ontwikkel dat hulle meer swakker koring in mengsels kan gebruik, maar bygevoeg dat hoe beter en skoner die koring is, hoe beter is dit vir hulle.
Kruger het ook gesê die jongste neiging is dat nuwe meulens aan die kus gebou word omdat so baie koring ingevoer word.
Mnr. Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, het gesê die meulenaars het met dié neiging nie veel geloof dat koringproduksie in die binneland weer aan die gang sal kom nie.
Kruger het vroeër ook gesê hulle “soek die goeie koring wat in Suid-Afrika geproduseer word” en later “ons meulenaars wil kwaliteit hê”. Hy het voorgestel dat boere skaalvoordele en tegnologie, soos presisieboerdery en saadontwikkeling, moet benut om die produktiwiteit van koringproduksie te verhoog.