
Graan SA moes hom weer tot die hof wend om die koringtarief afgekondig te kry. Die hof het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens opdrag gegee om die nuwe tarief nie later as 24 Augustus in die Staatskoerant aan te kondig nie.
Mnr. Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, betreur die feit dat hulle hul weer op die hof moes beroep om die tarief afgekondig te kry. Graan SA moes in April vanjaar ook ’n hofbevel kry om die vorige tarief ingestel te kry.
Die onsekerheid weens die vertraging in die afkondiging van die nuwe tarief het koringverhandeling belemmer, sê De Villiers. “Ons het sekerheid nodig. Dis jammer dat verbruikers nie bevoordeel is deur die vertraging omdat die goedkoper internasionale prys van koring nie by wyse van laer broodpryse aan hulle deurgegee is nie.”
Meulenaars bekommerd
Die Nasionale Meulenaarskamer is bekommerd oor die verhoging in die koring-invoertarief. Luidens ’n persvrystelling van die kamer het die stygende tarief voedselsekerheid verminder en verhoog dit hul kommer oor inflasie.
Die Meulenaarskamer sê hoewel die tarief met meer as 900% in amper twee jaar gestyg het, het binnelandse produksie nie teen dieselfde koers op die toenemende vlakke van beskerming gereageer nie. “Die Nasionale Meulenaarskamer is bekommerd oor die impak van ’n buitensporige hoë invoertarief op die prys van brood en ander koringprodukte.”
Die kamer sê die huidige tarief van R1 591,40/t verteenwoordig 38% van die prys van koring. “Dit plaas ’n las van sowat R3,2 miljard aan bykomende invoerkoste op die voedselverwerkingsbedryf as betaling van ’n tarief op ingevoerde koring.”
Die rand se waarde het sedert die begin van 2015 meer as 40% teenoor die Amerikaanse dollar verminder. In die lig daarvan sê die Meulenaarskamer die huidige tariefbedeling wat op Amerikaanse dollar gebaseer is, vererger die situasie deur “bykomende en onnodige beskerming deur aggressiewe waardevermindering van die geldeenheid”.
Volgens die Meulenaarskamer se raming sal die nuwe tarief die broodprys met 99,5 sent verhoog. Mnr. Boikanyo Mokgatle, uitvoerende direkteur van die Meulenaarskamer, sê hulle hoop die hersiening van die bestaande tariefbedeling takel die wanbalanse wat ’n ongunstige uitwerking op voedselsekerheid en inflasie op basiese voedsel het.