
Suid-Afrika het reeds meer as R100 miljoen verloor omdat die koringtarief wat begin Junie in reaksie op ’n daling in die prys van Amerikaanse hard red winter-koring "gesneller" het, nog nie aangepas is nie.
Mnr. Andries Theron, ondervoorsitter van Graan SA, en dr. Dirk Strydom, bestuurder: Graan-ekonomie en -bemarking by Graan SA, sê die gesloer by verskillende staatsdepartemente om die koringtarief van R1 224/t tot R1 591/t aan te pas, skep groot onsekerheid in die mark. "Dit maak dat die mark nie verhandel nie en dat boere minder geleentheid kry om pryse vas te maak en verskansing te doen."
Strydom sê die aanpassing van die tarief gaan gewoonlik deur ’n proses voordat dit in die Staatskoerant gepubliseer word. "Ons is gedurig in gesprek met Itac (die Kommissie vir die Administrasie van Internasionale Handel) in die Departement van Handel en Nywerheid oor wanneer dit gaan gebeur, en óf dit gaan gebeur. So, dis nog onseker."
Mislukte gesprekke met amptenare
"Ons wag nou maar, maar kan nie onbeperk wag nie," sê Theron. Hy meen die mislukte gesprekke met amptenare en hofbevele om die aankondiging van ’n nuwe tarief af te dwing, is ’n 'verloor-verloor' situasie. Die mense wat ek moet hof toe neem om die tarief in werking te stel, is dieselfde mense wat ek later moet oortuig dat ek weer ’n tarief wil hê."
Hy sê hy verstaan ook dat die Regering nie die tarief voor die verkiesing wou verhoog nie, maar die verkiesing is nou verby. Koring kan ook nou goedkoop ingevoer word, dog verbruikers word nie daardeur bevoordeel in die vorm van goedkoper brood nie.
Die tarief op ingevoerde koring is ’n meganisme wat goedgekeur is deur die Minister van Handel en Nywerheid om ‘n “vloerprys” vir koringprodusente daar te stel as wêreldpryse tot vlakke daal wat dit vir plaaslike koringprodusente ongunstig maak om te produseer.
Volgens Strydom is die Departement van Finansies besig om die formule waarvolgens die tarief bereken word, te hersien en te ondersoek of die formule die gewenste een is. "Hulle het vir almal in die waardeketting versoek om insette in te dien en vrae in die Staatskoerant gepubliseer vir enigiemand om kommentaar te lewer."
Strydom sê egter die bestaande formule bestaan vir ’n geruime tyd en is gestruktureer om koringboere te beskerm en die koringbedryf te help om te herstel. "Ons meen die formule is goed ontwerp. Daar is baie ander maniere om die tarief te ontwerp, maar met hulle word sekere dele van die doelwit om boere te beskerm teen lande wat hoë subsidies vir hul boere gee.