
Die nuwe tarief van R1 591/t sal eersdaags in die Staatskoerant gepubliseer word. Die aansoek is reeds by die Departement van Finansies, sê mnr. Nigel Gwynne-Evans, hoofdirekteur: African Industrial Development en waarnemende hoofdirekteur: verwerking van landbouprodukte by die Departement van Handel en Nywerheid.
Die ter-tafellegging van die mees onlangse sneller is vertraag weens kommer in regeringskringe oor die omvang van die tarief, en Itac versoek is om die bestaande prysformule te hersien. Die proses sal volgens Gwynne-Evans voor die einde van die jaar afgehandel wees.
Hy sê hulle besef die dringendheid van die aangeleentheid. "Ná vergaderings tussen die koringbedryf en die Regering is ons nou ten volle bewus van die uitwerking wat die vertraging op die bedryf gehad het, en sal ons ons bes doen om te verseker dat daar nie weer soveel onsekerheid veroorsaak word nie."