
Die bal is aan die rol gesit om koringtelers te vergoed vir verbeterde kultivars met die eerste tegnologie-heffingsgeld wat binnekort aan saadmaatskappye uitbetaal word.
Mnr. Andries Theron, voorsitter van die Suid-Afrikaanse agentskap vir kultivar- en tegnologie-ontwikkeling (Sacta) en boer van Moorreesburg, sê die uitbetalings volg op R25/ton heffingsgeld wat koring- en garsboere hierdie bemarkingsjaar begin betaal het om toegang tot beter kultivars te verseker.
Lang en duur proses
Hy het in Pretoria by 'n mini-graansimposium van Agbiz Grain oor die nuwe statutêre heffings gepraat wat daarop gemik is om saadmaatskappye vir nuwe kultivars te vergoed. Hy het gesê dit duur sowat 12 jaar en kos tot R16 miljoen om 'n nuwe kultivar op die mark te kry. Omdat tot 70% van saad op koringplase teruggehou word vir aanplantings was daar geen aansporing vir telers om nuwe kultivars na die plaaslike mark te bring nie.
Die heffinginkomste vir die eerste jaar beloop sowat R52 miljoen. Aanvanklik is gewerk op 'n heffing van R36/ton en heffingsgeld van R70 miljoen indien meulenaars en bakkers ook betrokke sou raak. Hulle wou egter nie. Theron het gepleit dat produsente en Agbiz Grain nuwe sakemodelle moet opstel wat tot almal se voordeel werk. Hy sê groter samewerking binne die hele waardeketting is nodig.
“Boere kan niks doen aan die prys nie, daarom moet hulle klem lê op goed wat hulle wel kan verander, soos toegang tot tegnologie en beter opbrengste. Almal in die koringbedryf sal hulle uiterste bes moet probeer om opbrengste te verhoog ten einde te oorleef. Ons kan nie op die wisselkoers en invoertariewe staatmaak nie. Daar is in die verlede ook te veel klem op gehalte gelê. Daar moet ’n balans wees.”
Oorlewing
Theron sê daar is geen manier wat ’n droëlandboer in die noorde met 'n opbrengs van 1,1 miljoen ton/ha of selfs sommige besproeiingsboere meer kan oorleef nie. Die koringbedryf het oor jare net agteruit gegaan. In 1990 is 1,5 miljoen ha in die land geplant teenoor 2016/17 se 496 350 ha.
Hy sê met die oorproduksie van graan, lae pryse in die noordelike dele van die land, die droogte en min aanplantings in die suide, is die skaal besig om oor te hel.
“Ons het 'n klomp klein eilande geskep waarop ons boer en ek dink ons is nou by die stadium waar ons 'n stelsel sal moet ontwerp waar reënval en die vraag na 'n produk bepaal wat ons produseer. Ons moet saamwerk aan 'n stelsel wat buigsaam is en elkeen nie net dít produseer wat sy voorouers geproduseer het nie.”
Hy sê die een boodskap wat hy wil tuisbring is dat daar nie meer plek vir swak skakels in die waardeketing is nie. “Ons sal dit nie oorleef nie. 'n Boer kan nie sonder die landboubesigheid oorleef nie en ook nie andersom nie.”