As korrupsie uitgewis word, kan restitusie en grondhervorming met die beskikbare geld binne 18 maande afgehandel word, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Hy het gereageer op berigte dat adj.pres. Kgalema Motlanthe daarop gewys het dat die Grondwet nie verander hoef te word sodat die doelwitte vir grondhervorming bereik kan word nie.
“Die probleem by die departement (van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming) is korrupsie, onkunde en luiheid. Ons moet saamwerk om grondhervorming te laat werk. Restitusie moet ook agter die rug gekry word. Die Grondwet maak voorsiening vir restitusie,” het Möller gesê.
R30 miljard se korrupsie
Volgens hom beloop die korrupsie op staatsaankope R30 miljard per jaar. Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sukkel weens ’n tekort aan kapasiteit en geld om sy mikpunt van 30% grond vir swart mense teen 2014 te behaal.
Motlanthe het op ’n vergadering met die parlementêre persvereniging gesê artikel 25 is nie ’n struikelblok vir die proses nie en só ook nie die beginsel van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper nie.
Hy het ook daarop gewys dat grond nie net na willekeur deur die staat onteien kan word nie. Daar sal duidelik aangedui moet word waarvoor die grond nodig is.
11 November 2011