Die buitengewoon hoë voorkoms van korrupsie en bedrog met grond en staatstoelae vir begunstigdes het daartoe gelei dat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ’n volskaalse ondersoek na die hele grondhervormingsproses begin het.
Die georganiseerde landbou en die DA het ’n geruime tyd gelede vrae begin vra oor ongerymdhede in die departement asook oor verskeie aspekte van die grondhervormingsproses.
Dit het daartoe gelei dat die SOE op versoek van mnr. Gugile Nkwinti, minister, oor ’n tydperk van ses maande ondersoek ingestel en beslag gelê het op “miljoene” dokumente om bedrieglike transaksies met staatsgeld op te spoor. Uit die aard van die aanvanklike verslae het dit geblyk die volle vermoë van die SOE gaan nodig wees vir ’n deeglike ondersoek.
Die SOE het reeds met die samewerking van die Valke en die Batebeslagleggingseenheid beslag gelê op plase en bates ter waarde van R50 miljoen in KwaZulu-Natal. Drie amptenare en ’n sakeman het in verband daarmee in die hof verskyn.
Volgens mnr. Eddie Mohoebi, hoof van kommunikasie by die departement, is die ondersoek in dié stadium hoofsaaklik van toepassing op finansiële bedrog wat met grondherverdeling verband hou. Die SOE meen egter die ondersoek sal waarskynlik uitgebrei word om die restitusieproses ook in te sluit.
Die SOE is gemagtig om alle aansoeke en toekennings van toelaes, grond wat oorgedra is en betalings aan begunstigdes, verskaffers, kontrakteurs en diensverskaffers in die grondhervormingsproses, asook die administrasie daarvan, te ondersoek.
Mohoebi het by navraag gesê dit is nie in dié stadium moontlik om besonderhede oor die ondersoeke te verskaf nie, maar “dit sal waarskynlik in die departement se finansiële verslag van 2010/’11 weerspieël word”. In 2009 en verlede jaar is 32 sake van korrupsie en bedrog in die departement ondersoek, waarvan 29 afgehandel is.
In sewe gevalle is kriminele vervolging aanbeveel en in nog sewe siviele vervolging. In 11 gevalle is dissiplinêre stappe aanbeveel. Die departement versoek mense wat bewus is van ongerymdhede met grondtransaksies om dit aan te meld by tel. 0860 748748 (0860 SIU SIU).
11 April 2011