Kospryse sal styg weens die verhoging in die brandstofheffing, sê dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, in sy reaksie op die Begrotingsrede.
Met inflasie ongeveer 6% is die 20% verhoging van die brandstofheffing totaal uit verhouding hoog. Dit gaan ‘n regstreekse invloed op inflasie hê. Kospryse sal noodwendig as gevolg daarvan styg omdat landbou grootliks van brandstof afhanklik is vir produksie asook om hulle produkte na markte te vervoer.
Mulder sê egter die ekstra geld wat vir landbounavorsing goedgekeur is, sal hopelik help om te voorkom dat Suid-Afrika verder op hierdie terrein agter raak as wat die laaste paar jaar gebeur het.
“Vanweë die verrassend meer belasting wat deur die staat geïn is, het minister Pravin Gordhan daarin geslaag om die begrotingstekort onder 5% te hou. Dit behoort die internasionale kredietgraderingsmaatskappye se beoordeling van Suid-Afrika gunstige te raak,” meen Mulder.
Tolpaaie-projek ‘lomp”
Die kompromie wat Gordhan rondom die Gautengse tolpaaie-projek moes maak, kos belastingbetalers nou miljoene rand weens die lomp beplanning en swak hantering van die projek sedert die aanvanklike besluite in 2007 geneem is.
Die stel van ‘n plafon van R550 per maand sal help om die las op motoriste te verlig wat die tolpaaie daagliks moet gebruik. Dit is egter totaal onaanvaarbaar dat taxi’s niks hoef te betaal nie. Na alles maak taxis geld uit die paaie terwyl talle arm motoriste nie anders kan as om met hulle motors daagliks op die tolpaaie werk toe te ry nie.
Die maatreëls om belastingvrystelling te gee ten einde individue aan te moedig om te spaar, is ‘n baie positiewe stap. Dit is wel ‘n vraag waarom dit tot so ‘n lae bedrag van R30 000 beperk word.
Die belastingvermindering vir klein en middelslag besighede word ook verwelkom asook die pogings om die staat se rompslomp by die betaal van hulle belasting te verminder. Dit behoort tot werkskepping en die groei van die ekonomie by te dra.
23 Februarie 2012