Suid-Afrika het nog nooit ‘n nasionale voedselkrisis beleef nie, maar dit is nie noodwendig net goeie nuus nie.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê hoewel dit ‘n groot pluimpie vir boere is, lei dit ook daartoe dat die land se beleidmakers dink dit is altyd ‘n gegewe.
“Beleidmakers dink soms dit sal so wees en so bly, en hulle dink aan boerdery as ‘n lewenswyse wat begeerlik is. Om te boer is egter ook ‘n onderneming, een met lae wins en wat harde werk verg, en dit vereis dat boere ook wetenskappe moet toepas hoewel hulle nie al die hulpmiddele daarvoor het nie,” sê Möller.
Tydens sy voorsittersverslag by Agri SA se jaarkongres in Johannesburg vertel hy: “Harry Openheimer het eenkeer gesê ‘’n myn is net ‘n gat in die grond’. So is ‘n plaas ook net ‘n klomp sand, klippe en bosse: Wat jy daarmee doen, bepaal of jy welslae behaal.”
Landbou het leiers nodig
Verder meen Möller dat die landbou leiers en nie net politici nodig het om suksesvol te wees nie. Hy sê baie probleme in plattelandse gebiede, maar ook in die land se ekonomie, kan opgelos word indien die landboubedryf en die land behoorlike leierskap kry.
“Die landbou se bydrae tot maatskaplike bystand en die groei van die ekonomie moet nie meer net teorie bly nie, dit moet ontwikkel word,” verduidelik Möller. Verder meen hy die landboubedryf moet, in samewerking met die Regering, as ‘n prioriteit aan te kondig.
Twee faktore
Möller het aan me. Tina Joemat-Petersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, ‘n uitdaging gestel ten opsigte van die manier waarop ‘n landbou-organisasie beoordeel word. Hy sê slegs twee faktore moet in ag geneem word wanneer só ‘n organisasie beoordeel word.
“Het dit ‘n voetspoor op die grond waar dit met lede op grondvlak skakel, en waarvandaan dit sy mandaat kry? Én doen die organisasie beleidsontwikkeling en dra dit dié ontwikkeling op ‘n verantwoordelike wyse aan sy lede oor?” Möller meen dit is uniek aan Suid-Afrika dat die verskillende landbou-organisasie met mekaar vergelyk, of soos sommige sal sê teen mekaar opgeweeg word.”
13 Oktober 2011