Die wêreldwye voedselkrisis en die feit dat hoë voedselpryse as verskoning gebruik word om regerings te onttroon, maak die Suid-Afrikaanse landbou se deur na die Regering oop, sê mnr. Jannie de Villiers, nuwe uitvoerende hoof van Graan SA.
Vrye mark werk nie
Hy het op die organisasie se kongres naby Bothaville gesê die vrye mark werk nie meer nie. “Lande beskerm hul eie belange. Niemand kan aanvaar dat hy sommer net kos kan invoer as hy self te min het nie. In Suid-Afrika is werkskepping, invoervervanging, die verligting van armoede en landelike ontwikkeling nou voorrangsake.”
In die verlede is daar net klem gelê op die bekostigbaarheid van kos. “Die nuwe voedselkrisis gaan egter nie net oor bekostigbaarheid nie, maar ook beskikbaarheid. Die land met die meeste geld gaan eerste die beskikbare kos opraap.” Suid-Afrika sit in ’n oorvloedsituasie, terwyl die omgekeerde
in die res van die wêreld geld.
“Ek dink die goeie landboutoestande in Suid-Afrika word weerspieël in die groter gemoedelikheid wat ek op die kongres ervaar het.” Hy sê daar is ’n belangrike nuwe internasionale neiging wat die landbou se belangrikheid beklemtoon.
Biobrandstof
“Wêreldwyd word rekordoeste geproduseer, maar steeds kan daar nie in die vraag voorsien word nie. Dit is soos ’n voertuig wat teen topspoed ry, maar steeds nie betyds by die bestemming gaan aankom nie. Daarom is die konsensusvoorstelle van die kongres oor die belangrikheid van invoervervanging en die skep van ’n biobrandstofbedryf ook kwessies wat vir die Regering nou meer aanvaarbaar geword het. Die moontlikheid dat iets daadwerkliks daaraan gedoen sal word, is nou groter.”
De Villiers sê hy kry ook die gevoel dat boere nie meer net wil kla nie. Hulle wil ook doen en soek na nuwe en oorspronklike oplossings. Die klem is nie meer net op wat die Regering van sy kant moet doen nie.
14 Maart 2011