
Prof. André Jooste, hoof van die Navorsingsentrum oor Markte en die Ekonomie by die NLBR, sê groot kommer bestaan oor die groeiende gaping tussen pryse wat primêre produsente ontvang en dít wat verbruikers in die kleinhandel betaal. Hy het die Landboubesigheidskamer (Agbiz) se tweejaarlikse kongres in die Drakensberge toegespreek.
Jooste sê dit is belangrik om te verstaan wat tot dié hoë pryses aanleiding gee, pleks daarvan om binne waardekettings te begin vinger wys. Volgens hom bestee die armstes van die armes sowat 36% van hul maandelikse inkomste aan voedsel, en teen die spoed waarteen pryse styg, sal dié groep nie kan oorleef nie.
Produksiekoste op ’n plaas
Jooste sê hoë stygings word tans in die produksiekoste vir primêre produsente en die kleinhandelwaardeketting ervaar. Wat produksiekoste op primêre vlak betref, is ’n gevallestudie op ’n plaas in die Noord-Kaap gedoen.
Dié boer se jaarlikse omset is R4 miljoen. Sy produksiekoste het binne ’n jaar met meer as 20% gestyg. Kunsmis kos die boer sowat 34% meer, terwyl die pryse van brandstof en elektrisiteit op sy plaas met onderskeidelik 25% en 20% gestyg het. “As dié boer enigsins ’n slegte jaar beleef wat die weer of enige ander eksterne faktore betref, sal hy nie meer kan boer nie.”
Vervaardiging en kleinhandel
Intussen het koste in die vervaardigingsektor die afgelope sewe jaar reuse-stygings beleef. Jooste sê die koste van elektrisiteit het tussen Maart 2005 en Maart vanjaar in dié sektor met sowat 177% gestyg, terwyl petroleum- en koolstofprodukte sowat 121% duurder is.
Die koste van ’n plastiekbottel het in dieselfde tyd met 82,2% gestyg. Jooste sê dit is ironies dat die houer wat byvoorbeeld melk bevat tans duurder is as die melk wat daarin gehou word.
’n Kleinhandelaar in die Suid-Kaap het sy boeke aan die NLBR oopgestel sodat sý kostestygings ook bepaal kan word. Jooste sê dié kleinhandelaar – wat ’n klein winkel bedryf en besit – se water-, elektrisiteit- en bankkoste het tussen Februarie 2001 en November 2010 elk met meer as 500% gestyg. Terselfdertyd het die handelaar se wins met sowat 5% gedaal.
Oplossings
Jooste sê die druk op pryse en verbruikers se sakke gaan nog vir ’n tyd lank voorkom. Dié moeilike situasie, wat op alle vlakke in die waardeketting heers, gaan nie vinnig verbeter nie. Hy moedig innoverende oplossings tussen die private sektor, die publiek en die Regering aan.
Met kragtariewe wat op verskeie vlakke kopsere veroorsaak, meen Jooste samewerking is nodig tussen die verskillende waardekettings en die Departement van Energie om ’n plan saam te stel om kragkoste te verlaag. Hy sê ’n voedselbank is ook ’n werkbare idee om voedselsekerheid vir armes te bewerkstellig, terwyl die maatskaplike toelaagsisteem hersien moet word.
Volgens Jooste bestaan daar tans ook ’n leemte wat navorsing oor hoë voedselpryse en die invloed daarvan op verbruikers en die ekonomie betref. Hy sê sulke navorsing sal bedrywe in staat stel om die Regering in te lig oor gebeure en wat hy moontlik kan doen om die situasie te verbeter.