
Die Melkprodusente-organisasie (MPO) waarsku dat die produksie van onverwerkte melk vanjaar wéér kan krimp indien stygings in melkboere se plaashekpryse nie vergoed vir die groot styging in hul insetkoste nie.
Volgens mnr. Fanie Ferreira, uitvoerende hoof van die MPO, was die kumulatiewe produksie in die eerste drie maande van vanjaar 0,86% laer as in verlede jaar se eerste drie maande en 5,58% laer as in die eerste drie maande van 2020.
Produksie was in Maart vanjaar 3,23% laer as in Maart 2021, wat weens die gure weersomstandighede vanjaar kon wees, maar ook weens negatiewe marges wat op plase ervaar word.
Die jongste beskikbare gemiddelde plaashekprys is sowat R6,60/liter, met die melk-tot-voerprysverhouding gevolglik 1,16:1. “Dit is laag en sal produksie verder afdruk. Die effek van die buitengewone styging in insetkoste op plaasvlak gaan in die komende maande melkproduksie verder onder druk plaas indien melkkopers nie melkpryse voldoende aanpas nie,” sê Ferreira.
Die MPO voer gereeld gesprek met rolspelers stroomaf in die suiwelwaardeketting om die verwagte uitwerking van boere se stygende insetkoste te verduidelik.
Mnr. Bertus van Heerden, hoofekonoom van die MPO, sê terugvoer uit die mark dui daarop dat daar in April beperkte stygings in plaashekpryse was.
“As ’n mens die Maart-prys as barometer gebruik, wys dit dat die plaashekprys in Suid-Afrika nie reageer op die vlak van die primêre bedryf se insetkoste-knyptang nie. Dit wek die indruk dat die mark nie bekommerd is oor die aanbod van onverwerkte melk nie.”
Europese melkboere wen
Die gemiddelde Suid-Afrikaanse plaashekprys was in Maart 2022 11,8% hoër as in Maart 2021. Hierteenoor het Europese melkboere se gemiddelde prys volgens syfers van die Europese kommissie sedert Augustus verlede jaar deurlopend bly styg en was in April 25% hoër as ’n jaar gelede.
Die stygings wissel van 19% in Frankryk tot 35% in Nederland. In Pole, vanwaar Suid-Afrika in die jongste paar jaar langlewemelk ingevoer het, het pryse met 30% gestyg.
Van Heerden sê dié prysstygings wys dat die stroomaf deel van die Europese suiwelwaardeketting tred hou met wat in die primêre deel van die ketting gebeur en deeglik besef dat die kostestygings op plaasvlak erger is as in enige vorige tydperk.
Syfers toon dat die oorlog in Oekraïne en die gepaardgaande sanksies teen Rusland die internasionale suiwelmark min versteur het. Dit is waarskynlik omdat Belarus tussen 2010 en 2021 Europese lande as Rusland se grootste bron van suiwelprodukinvoer vervang het.
Tot dusver vanjaar lyk dit nie asof Suid-Afrika vanjaar groot hoeveelhede gaan invoer nie.
Van Heerden sê internasionale produkpryse vir botter, cheddar en volroom- en afgeroomde melkpoeier, soos gepubliseer deur die Amerikaanse departement van landbou, is in randwaarde op rekordhoë vlakke. Internasionale logistieke probleme bly ook ’n groot struikelblok.
Laer produksie
Die onvoldoende opwaartse beweging in plaaslike boerepryse wek volgens Van Heerden die indruk dat die aanbod wel voldoende is en produksiegroei onnodig is.
“Namate dit duurder raak om te produseer, gaan boere minder produseer. ’n Weidingsboer sal waarskynlik minder stikstof per hektaar toedien, wat sal beteken dat hy minder diere per hektaar kan aanhou en produksie uiteindelik sal verlaag.” Hy reken ’n daling van 3% in produksie sal die plaashekprys beter laat beweeg.
Die uitwerking van duurder produksiemiddele soos kunsmis gaan volgens Ferreira al hoe duideliker word omdat sommige boere vooruit voorraad teen laer pryse aangekoop het en nou eers aanpassings gaan begin maak volgens die nuwe pryse.
Vraag na Vrystaatse melk
Boere van die Kroonstad-omgewing ervaar intussen ongewone belangstelling in hul melk.
Mnr. Riaan Oosthuizen sê dit is waarskynlik weens die groot styging in brandstofkoste, wat vervoer van vergeleë provinsies na Gauteng baie duur maak, asook die tradisionele laer aanbod van onverwerkte melk in die winter. “Ek vermoed Gautengse melkverwerkers ervaar dat die vraag na onverwerkte melk groter is as die aanbod.”
Oosthuizen se melkboerdery is weidinggebaseer en hy het 1 000 koeie in melk. Hy het oorweeg om vanjaar sy melkery weens die onwinsgewende plaashekprys tot niet te maak en hom eerder net op sy graanboerdery toe te spits. “ ’n Mens moet jou tyd bestee op dié bedrywighede waar jou geld vandaan kom, maar dit lyk nou vir my asof ek gaan regkom. Ek het ’n paar goeie aanbiedinge (vir plaashekpryse) gekry.”