
Dit was ’n gewone Maandagoggend in die Noordwes-dorpie Koster toe ’n sakeman sy hardewarewinkel in Cedrella vir besigheid oopsluit. Hy was skaars binne toe hy vlamme sien en hom haas om die elektrisiteit af te skakel, maar dit was te laat. ’n Gasbottel het ontplof.
Die brandweer van die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit (Derby, Koster, Swartruggens) is dadelik ontbied, maar toe die waens op die toneel opdaag, was hul watertenks leeg en daar was nie passtukke om pype aan die brandkraan op die sypaadjie te koppel nie.
Me. Stella Potgieter, ’n plaaslike VF Plus-raadslid wat dadelik op die toneel was, het haar toe tot die WhatsApp-groepe vir die omgewing se boere, gemeenskapspolisiëringsforum en sakelui gewend en laat weet Abdul se winkel brand en hulle het dringend hulp nodig.
Mnr. Abdul Haffejee se familie doen al meer as 70 jaar besigheid op hierdie persele op Koster. Vriendskappe tussen boere en die dorp se Indiërgemeenskap strek oor geslagte. “Daar was al tye dat banke boere nie met lenings kon bystaan nie, en dan het hierdie sakemanne hulle met lenings gehelp. Tot vandag toe het boere nog groot rekeninge by Haffajee.”
Dit was dus nie ’n verrassing nie toe bakkies uit alle oorde binne minute op die toneel opdaag met brandblussers en vuurslaners om die brand te blus. “In ’n stadium was daar meer as 25 bakkies. Boere het saam met plaaslike sakelui en gewone inwoners soos een man teen die brand baklei.”
Mense uit die gemeenskap het intussen begin om die leë brandweerwaens met emmers uit die brandkraan op die sypaadjie vol te maak. “Ek was nog nooit so trots om ’n inwoner van Koster te wees nie,” sê Potgieter. “Die spontane manier waarop almal, ongeag ouderdom of velkleur, ingespring het en die georganiseerde manier waarop hulle gewerk het, het my verstom.”
Toe die brand onder beheer gebring is, was drie winkels in puin gelê: Haffajee se besigheid, Suliman Mahomed & Co; ’n kafee wat ook fietse verkoop en herstelwerk doen, Aboo se Winkel; en ’n besigheid wat televisies en elektroniese toebehore herstel, Solly se Winkel.
Op die Facebook-groep Koster van Toeka tot Nou stroom boodskappe van simpatie en bemoediging met die drie besigheidsmanne en hul families uit alle oorde in. Die blad is gestig vir inwoners en oud-inwoners van Koster juis vir tye soos hierdie, waar die gemeenskap lief en leed kan deel. ’n Geldinsamelingsprojek is dadelik begin om Haffejee by te staan met mediese koste vir die brandwonde wat hy opgedoen het. Hy is die enigste persoon wat in die brand beseer is. Belangstellendes kan die Koster van Toeka tot Nou-Facebookblad besoek vir bankbesonderhede om bydraes te maak.
Intussen het Landbouweekblad verneem ’n soortgelyke toneel het hom Maandagaand op Thabazimbi afgespeel toe ’n brand by ’n gastehuis op die dorp ontstaan het en die brandweer nie in staat was om die brand te blus nie.