
Die plaas Buffelsfontein, tussen Molteno en Dordrecht, het volgens die SA Weerdiens die nag van 8 Julie ’n temperatuur van -19,3?°C aangetetken – en daarmee sy nie-amptelike titel as koudste plaas in Suid-Afrika herbevestig.
Volgens die SA Weerdiens was die vorige rekord op Bufeflsfontein -16,1 grade C, wat op 12 Julie 2003 opgestel is.
‘n Leser van Dordrecht, @VanLiezl, het getwiet: Dit is -17 grade vanoggend op Klipkraal, Dordrecht, Oos-Kaap!!!
Luidens ’n berig in Die Burger sê mnr. Robbie Stretton van Buffelsfontein dié koue klits sy vee. “As dit net vir ’n paar dae koud is, is dit nie so erg nie. Nou is dit al langer as twee weke so koud, en dit begin my beeste pla.”
Dit kan naderhand ook baie gevaarlik raak, het hy gesê. “Wanneer dit koud is, moet die koeie ekstra energie verbrand om warm te bly. Dan verbrand hulle koolhidrate en vette, en dít kan hulle doodmaak.
“Nou voer ek proteïen-aanvullings in die winter om hulle teen die koue te help veg.” Die koeie is egter nie Stretton se enigste probleem nie. "Ek boer al vir 25 jaar, en dit is die eerste keer dat dit só koud word dat die waterpype onder die grond bars. Die grond is nou so koud dat dit al meer as tien keer dié winter gebeur het.”
Barkly-Oos en Jamestown se mense het ook gebibber met temperature van tussen -11,8 en -12,6?°C .
Bron: Die Burger