
Boere moet seker maak dat hulle in hul begrotings en kontantvloeistate voorsiening maak vir stygings in die koste van geadministreerde pryse, soos dié van arbeid en krag.
Die styging in dié koste gaan verhinder dat voedselpryse danksy laer brandstofpryse kan daal, sê mnr. Dawie Maree, FNB se hoof van landbou-inligting en -bemarking. Brandstof is maar een deel van produsente se koste en die verhoging in die minimum loon vir plaaswerkers asook die nuwe speek in die wiel, elektrisiteitstekorte, gaan dalings in kospryse teenwerk.
Maree het in ’n verklaring gesê mense wat ’n beroep doen dat voedselpryse dienooreenkomstig met die daling in brandstofpryse moet daal, vergeet gerieflikheidsonthalwe van die verhoging van 7,7% in die minimum loon vir plaaswerkers wat op 1 Maart in werking tree. Die minimum maandelikse loon vir plaas- en boswerkers sal dan R2 606,78 beloop.
“Die totale regstreekse loonrekening vir die landbou beloop sowat R14,5 miljard per jaar en sal ná Maart tot sowat R15,6 miljard per jaar styg. Arbeidskoste verteenwoordig sowat 14% van die totale uitgawes op intermediêre goedere en dienste in die landbou.
“Dié persentasie verskil afhangende van die bedryf waarin ’n produsent is. Minder arbeidsintensiewe bedrywe wat grootliks gemeganiseer het, soos die graanbedryf, se arbeidskoste beloop tussen 5% en 10% van koste, terwyl arbeidskoste in arbeidsintensiewe bedrywe soos vrugte en groente ’n groter deel van koste sal wees.”
Wat kragteprobleme betref, sê Maree voedselprodusente werk met bederfbare produkte en daarom is elektrisiteit baie belangrik. Ná die kragkrisis van 2008 het baie produsente in bystand-elektrisiteitsvoorsiening belê. Hierdie kragopwekkers word egter nou meer gebruik as wat verwag is en dit plaas kostedruk op boere en verwerkers.
“Dit kan die voordeel van lae brandstofpryse heeltemal vernietig. Om alles te kroon, sal elektrisiteitstariewe op 1 April met sowat 13% styg,” sê Maree.