Boere moet gehoor gee aan Eskom se versoek vir kragbesparing om beurtkrag te vermy, sê Agri SA.
Luidens ’n verklaring sê mnr. Johannes Möller, voorsitter: “Beurtkrag kan landbou- en voedselproduksie knou en in sommige gevalle selfs vernietig. Die daaglikse krisistydperk wanneer elektrisiteitsaanvraag skerp toeneem, is tussen 17:00 tot 21:00. Dit is veral in hierdie tydperk wat kragverbruik afgeskaal moet word.”
Die kragvoorsiener het Maandagmiddag (9 Januarie 2012) ’n krisis ervaar toe sy reserwe-kragvoorraad, wat gewoonlik in die aand gebruik word, reeds gedurende die middag gebruik moes word. ’n Versoek is aan veral huishoudelike verbruikers gerig om elektriese toestelle wat nie gebruik word nie, tydens spitstyd, af te skakel.
Planne
Möller sê boere kan ’n bydrae lewer deur hul verbruik te herskeduleer, hoewel landbou-produksieprosesse en die verkoeling van bederfbare landbou- en voedselprodukte min ruimte vir elektrisiteitbesparing laat.
“Hoewel besproeiingsboere meestal reeds buite spitstyd hul gewasse besproei, behoort hierdie en soortgelyke herskeduleringsmoontlikhede ten volle benut te word,” aldus Möller.
Sowat 25% van die land se landbouproduksie is van elektries aangedrewe besproeiingstelsels afhanklik, hoewel dit een van die land se kleiner kragverbruikers is.
Möller sê die verwerking en verkoeling van ’n verskeidenheid landbouprodukte, wat ’n vereiste vir die handhawing van gesondheid- en gehaltestandaarde is, kan nie sonder deurlopende kragvoorsiening gedoen word nie.
“Ek vertrou dus werklik dat alle kragverbruikers sal meedoen aan die poging om deur besparing en herskedulering ’n beurtkragbedeling te vermy.“
11 Januarie 2012