
Mnr. Mondo Viljoen is in Oktober verlede jaar in die Lydenburgse landdroshof skuldig bevind op 28 klagte wat met kragdiefstal verband hou en is op 6 Januarie vanjaar tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.
Operasie Khanyisa, ’n vennootskapsveldtog wat wettige, veilige en doeltreffende kraggebruik bevorder, het in ’n verklaring gesê die saak het in Maart verlede jaar begin. Die klagte teen Viljoen het voortgespruit uit peutering aan meters op verskillende plase landwyd asook by ’n hotel in Limpopo.
Die sindikaat was in verskillende provinsies bedrywig maar die saak is in Lydenburg, Mpumalanga, gekonsolideer. Viljoen se medepligtige en agt boere aan wie hy kragdiefstaldienste gelewer het, het staatsgetuies geword en teen hom getuig. Die boere moes elk as deel van hul pleitooreenkomste boetes van R200 000 aan Eskom betaal.
Een van die boere het in die hof getuig Viljoen het hom sonder uitnodiging besoek en vertel hy kan, teen ’n fooi van R1 500, tot 30% op sy kragrekening spaar. Mnr. Maboe Maphaka, senior bestuurder vir energieverhandeling en verkopeberamings by Eskom, sê die maatskappy beskou kragdiefstal en die gevolglike energie- en inkomsteverliese in ’n baie ernstige lig, veral weens die invloed wat dit op die kragnetwerk het wat reeds erg onder druk is.
Maphaka het ’n beroep op die publiek gedoen om hulle nie deur aanbiedinge van “goedkoop” krag tot kragdiefstalpraktyke te laat uitlok nie. Hy het gewaarsku dat dit ’n ernstige misdaad is en dat klagte van bedrog en diefstal teen oortreders gebring kan word.
Operasie Khanyisa het verlede jaar ’n program in die Vrystaat begin wat gerig is op verbruikersnakoming. Boetes van meer as R700 000 is uitgereik en meer as 14 000 onwettige voorafbetaling-krageenhede is verwyder.
Die program het daartoe gelei dat 137 000 verbruikers in Limpopo nou wettig krag koop, wat R34 miljoen se inkomste vir Eskom in dié provinsie ontsluit het. Die program sal vanjaar na ander provinsies uitgebrei word.