Die effek van beurtkrag is een ding, maar vir sommige boere in die distrik Burgersfort is Eskom se beurtkragskedule byna niks werd nie. Hulle moes byvoorbeeld van Maandagaand om 23:00 tot Dinsdagmiddag om 17:30 met net twee uur se elektrisiteit van Eskom af oor die weg kom.
Vir hierdie boere wat afhanklik is van Eskom se MBF-lyn – algemeen bekend as die Merensky-lyn – is die afgelope week se gesukkel niks nuut nie. Hulle gaan al drie maande gebuk onder ’n ladingverminderingstrategie van Eskom wat vererger word deur ’n foutiewe skakelaar by die Steelpoort-substasie.
Ladingvermindering, verduidelik me. Deidré Carter, Agri Limpopo se uitvoerende hoof, is ’n poging om plaaslike verspreidingsprobleme aan te pak wat weens onwettige aansluitings, meteromseilings en ’n gepeuter met elektrisiteitsinfrastruktuur veroorsaak word.