As Eskom kragonderbrekings in die somer toepas, kan dit “oeste sleg benadeel”, sê Agri SA.
Luidens ’n berig in Beeld (24 November 2011) kan kragonderbrekings ’n werklikheid word as almal in Suid-Afrika nie begin bespaar waar hulle kan nie.
Mnr. Brian Dames, uitvoerende hoof van Eskom, het Woensdag (23 November 2011) ’n kommerwekkende prentjie van die land se kragvoorraad vir die komende maande geskets.
Hy sê die kragvoorsiener is agter met sy instandhoudingsprogram en hy sal dié agterstand moet inhaal voor die winter aanbreek.
Hoekom nou?
Die kragvoorsiener doen gewoonlik sy instandhoudingswerk gedurende die somer aangesien die kragverbruik dan tradisioneel laer is. Sy mikpunt is om sowat 10% van sy kapasiteit te onttrek, maar tot op hede kon hy nog slegs 6% op ’n slag onttrek.
Kraggebruik is tans hoër as die verwagting omdat ál meer Suid-Afrikaners lugversorgers teen die hitte gebruik. ’n Troebel prentjie word vir Februarie aanstaande jaar voorspel as Eskom nie nou sy agterstand kan uitwis nie.
Gedurende dié maand sal 1 000 megawatt deurgaans ontbreek, en dit kan selfs tot 2 000 megawatt toeneem. Dít kan uiteindelik tot onderbekings in spitstyd lei.
Oesskade
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê kragonderbekings in die somer kan veral vrugte-oeste benadeel. “Dit gaan veral die ouens benadeel wat van die koueketting afhanklik is om hul vrugte of produkte koel te hou.
Wat besproeiing betref, kan ’n boer dit nog probeer bestuur deur dalk deur die nag te spuit of so, maar ’n koelkamer moet koud bly.” Möller sê hulle het nog geen inligting in dié verband van Eskom ontvang nie.
Bron: Beeld
24 November 2011