Gereelde kragonderbrekings en ander verwante probleme in Mookgopong gaan deur die Nasionale Energierreguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ondersoek word, sê AfriForum. Luidens ’n mediaverklaring het Nersa dié onderneming op ’n vergadering aan die organisasie gegee.
Dié stap volg op ’n klag wat die organisasie by Nersa oordienslewering deur die plaaslike en distriksmunisipaliteite ingedien het. In die klag wys die organisasie daarop dat die gebied gereeld onder kragonderbrekings deurloop, én dat munisipale werkers weier om die kragtoevoer oor naweke te herstel. Dié weiering word glo aan ’n streng beleid oor oortydbetaling by die munisipaliteit toegeskryf.
Die kragonderbekings lei later ook tot wateronderbrekings in die gebied, omdat die waterpompe met krag werk. Dié situasie het nie net ’n invloed op huishoudings of ondernemings nie, maar ook op boere in die distrik – veral groenteboere wat van water en krag afhanklik is.
Taakspan aangestel
Volgens AfriForum het Nersa onderneem om ’n taakspan aan te stel om die probleme en die munisipaliteit se dienslewering te ondersoek. Die Departement van Arbeid sal ook by die ondersoek betrek word. Die kwessie sal voortaan voorrang by Nersa geniet.
Die energiereguleerder is ook versoek om gebrekkige instandhouding van gevaarlike hoogspanningslyne deur die munisipaliteit by die klag in te sluit.
Mnr. Philip van Staden, voorsitter van AfriForum in Mookgopong, sê die munisipaliteit is veronderstel om 6% van sy begroting aan instandhouding te bestee. “Volgens AfriForum se voorlegging is daar egter geen teken van sodanige besteding in die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) om die huidige probleem op te los nie.”
11 April 2012