Suid-Afrika se kragverbruik het in Julie vanjaar met 0,8% gestyg vergeleke met dieselfde maand verlede jaar, sê Statistieke SA.
Luidens ‘n berig op Engineering News Daily het verbruik vandeesmaand met 165GW toegeneem.
Tydens die eerste sewe maande van die jaar het die land se kragverbruik met 5,7% of 7 566GW toegeneem in vergelyking met dieselfde tydperk in 2009.
Produksie styg ook
Die produksie van elektrisiteit in Julie het ook, in vergelyking met 2009, met 0,2% of 34GW gestyg.
Totale produksie vir die jaar tot Julie is ook hoër. Sowat 5,7% of 8 131GW meer krag is in die eerste sewe maande van die jaar geproduseer, in vergelyking met verlede jaar.
Hoër provinsiale kragverbruik vir die eerste ses maande is ook aangeteken. In totaal het Eskom 6,7% of 8 212GW meer krag aan provinsies voorsien, met al nege provinsies wat hoër kragverbruik aangeteken het. In KwaZulu-Natal is 1,3% meer krag in die eerste helfte van die jaar gebruik as verlede jaar, terwyl verbruik in Mpumalanga met 15,1% gestyg het.
Sowat 2,3% se elektrisiteit is in die eerste sewe maande van 2010 buite die land aangekoop, terwyl Suid-Afrika se voorsiening aan buurlande met 6,9% toegeneem het.
3 September 2010