
‘n Student van die Vrystaatse Universiteit werk hoop om die beefalo, ‘n kruisras wat uit vleisbeeste en Amerikaanse bison geteel word in Suid-Afrika te vestig.
Mnr. Nic Toerien, ‘n honneursgraad-student in Landboubestuur, sê hy het in sy voorgraadse studie al intensiewe navorsing oor die beefalo begin doen. Hy stel nou ‘n handleiding vir beefalo-vestiging in Suid-Afrika saam.
Hy hoop om Afrikanerbeeste vir die plaaslike kruisings in te span, en het reeds dié genootskap se steun vir die projek gekry, sê hy. Die Amerikaanse Beefalo-vereniging het onderneem om strooitjies bison-semen te help finansier, maar hy moet nog borge of beleggers vind wat die invoer- en ander koste kan help betaal.
As dié kruisings reg aangepak word, kombineer dit die beste eienskappe van die bison en die vleisbees, sê Toerien.
Voordele vir gesondheid
Toetse toon dat beefalo-vleis bykans geen skadelike cholesterol bevat nie. Dit is ook besonder ryk aan voedingstowwe. ‘n Beefalo-kalf is gewoonlik klein, wat die geboorteproses vergemaklik, maar haal vinnig in.
Dit is nie kieskeurig oor weiding nie, en benut natuurlike weiding goed. “In die VSA het beefalo selfs vet geword op weiding wat deur ander beeste vermy word,” sê Toerien.
‘n Wêreldvereniging is in 1965 in die VSA gestig om die nuwe ras te bemark.
Nic kan by 082 265 7037 of nictoerien@yahoo.com gekontak word.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 18 Februarie 2011.
14 Februarie 2011