Atesame 421 houtkruise sal dié naweek by Bosmansdamlaan oorkant die Bothasig-natuurreservaat naby Kaapstad opgerig word vir die renosters wat dié jaar doodgemaak is.
Luidens ’n verklaring het die Palala Rhino Sanctuary dié projek onderneem as deel van ’n bewusmakingsveldtog oor dié diere wat vir hul horings uitgewis word.
Green Renaissance het reeds verlede maand ’n soortgelyke projek onderneem deur 282 kruise op die grasperke by Seepunt in Kaapstad op te rig.
Volgens die statistiek wat Palala dié jaar bygehou het, is 421 renosters, kalfies en dragtige renosterkoeie dié jaar deur stropers afgemaai. Dit sluit egter nie die aantal renosters in wat na internasionale dieretuine of jagplase uitgevoer word, waar baie ook doodgemaak word nie.
Jomo
Die foto hieronder, wys die horings van drie renosters in ’n reservaat in die Waterberg. In die middel is Jomo. Hy was op pad na ’n internasionale jagplaas of dieretuin, maar Palala kon die nodige geld betyds insamel om dit te keer en hy het nou ’n nuwe familie.
Jomo pas glo goed aan by sy nuwe omstandighede, en Palala hoop om dit vir talle ander renosters te kan doen.
Hoewel die volmaan vir die mensdom ’n sekere bekoring inhou, is dit die tyd van die maand wat stropers die beste benut om renosters te jag. Dus, vir ’n renoster is die volmaan gelyk aan dood.
Volmaan
Die stropers het weens die lig van die volmaan nie nodig om skerp ligte te gebruik om die diere op te spoor nie, en derhalwe is dit nie maklik om die stropers op te spoor nie.
Palala sê dit is hoekom die seremonie op ’n volmaan-dag, 10 Desember, sal plaasvind. Hulle nooi die publiek om die oprigting van dié kruise te kom aanskou.
Intussen het Sanparke ’n verklaring uitgereik dat 405 renosters dié jaar op private reservate en in nasionale parke van kant gemaak is. Dié dele wat die hardste geslaan is, is KwaZulu-Natal, Limpopo en die Kruger Nasionale Park.
Dié syfer is 21,6% hoër as die syfer van 333 renosters verlede jaar. Dit is teenoor ’n styging van 173% verlede jaar en 47% in 2009. Die aantal inhegtenisnemings vir stropers het die jaar met 27,3% toegeneem.
6 Desember 2011